Maandag, 26 Desember 2016

Die Pantie, die rekkie en die onderrok.

Ek het ‘n niggie wat in Mauritius woon...al vir jare! Sy is ’n baie interessante karakter en leef ’n lewe van eenvoud en saam met haar gemeenskap. Verstaan nou vir my mooi...nie arm nie...nie ryk nie...net gemaklik. So praat ons oor ons kinderjare en sy vra of ek nog onthou van die tannies met die onder rokke wat alewig uitgehang het. Ja, so sit ons en praat oor die onderwerp van onderrokke. Ek sit toe en giggel oor die storie want soos die noodlot dit wou hê, tref ’n ding my mos met ’n verdekselse pantie en jare later die onderrok!

Ek en my sus is in dieselfde jaar gebore. Ek In Februarie en my sus Desember...presies 10 maande tot op die dag uitmekaar. So vir ‘n paar maande van die jaar is ons ewe oud en ek is dan nie meer die ousus nie. My klein sus het my in lengte baie vinnig ingehaal en ek was maar die kleinste van die twee...vandag het sy my pa se lengte en lang bene en ekke die KG! So kom dit mos met drie dogters in die huis dat die grootste se klere na die ander aangestuur word. Ek kry toe mos ‘n “klein-broekie” wat se rekkie effens los is en was gaande oor die ding wat nie geknyp het nie.

Ek was nie die soetste van kinders gewees nie en om ’n rok te dra was vra vir moeilikheid as jy weet wat ek bedoel. Ek was altyd vuil, die soom bruin en daar sit duidelik twee bruin boudkolle agterop...en natuurlik ’n paar hande wat afgevee is. Let wel, ons het rooigrond gehad....so nou weet julle seker hoeveel keer my agterent gebrand het oor die storie. Nou goed, ek en die pantie was onfskeidbaar. Dit het nie geknyp nie en ek het dit altyd saam met my kortbroeke gedra. Nou dat ek daaraan dink, dit was op ’n keer ook ’n swembroek gewees en met vreeslike gevolge. Ons het in die gronddam op onse boude afgegly. Seker so 9 jaar oud gewees. Dit was ’n warm dag en so trek ons kaal uit behalwe die panties. Ons gly teen die hoek van die dam af en plons dan die dieptes in. Pa en ma slaap hul Sondag slapie en ons mos veronderstel om soet te wees. Eish, daardie middag kom ons terug met boude wat brand....letterlik. Toe ons bad het moeder ons boude met vaseline en varkvet ingesmeer want die rooigrond het ons boude laat lyk of dit met borrie bygekom is. Dan nie eens te praat van die krapmerke wat die Leiklippe gemaak het, kompleet of ‘n kat sy kloue ingeslaan het. Duidelik was ’n pak slae nie nodig gewees..ons het ons les geleer.

Dit is mos toe weer ek en pantie se kind. Ma kuier by haar sussie en die tannies drink tee. Ek het my beste kisklere aan en moet soet sit en tanne tel...dit reën buite en stil sit was waaragtig nie maklik nie. So staan ek en gesêls met my ma en sy stuur my weg om ’n koekie te kry. So met die wegloop, duik moeder soos ’n springbok om my te keer. Nog voor sy kan keer slaan ek neer op die vloer...daardie einste pantie het mooi tot op die enkels afgeval en my gepooitjie. Dit was die laaste van die nommertjie gewees! Moeder het geleer om nie onderklere aan te stuur nie.

Maar helaas het ek mos nie my les geleer en onlangs as ’n groot vrou amper weer die konsternasie beleef met ’n onderrok wat ek moes aantrek. Ek het dit by my moeder geërf en die Filistyne het my laat onderrok aantrek want my rok skyn deur. Mhhh...nie ’n goeie idee gewees nie. Ek het gedink die rekkie sal reg wees, maar nee...ek vat ’n koper speldjie en steek toe maar ’n stukkie af sodat dit bo bly. Op ’n stadium voel ek ek trap rok vas, net om te besef, die speld het losgegaan en ek val oor die onderrok! Gelukkig gebeur dit by die speelgroepie van klein Filistyn, ek klim so grasieus soos 'n kameelperd uit die gedoente...of eerder tree uit die wit lappie uit en raai waar kuier onderrok se kind...ja...in die asblik. Van nou af sal ek nooit weer ander mense se ou goed aantrek nie, al is dit mooi en sentimenteel. Jammerte vir ’n ander se goed kan jou in lelike penaries laat beland!



Vrydag, 23 Desember 2016

BKT Kersfees wense....

Die gedagte aan Kersfees vir my as Christen is een waar ek dankbaar is vir die Seun wat vir ons gegee is om as middelaar en skakel na God die Vader te wees. Dat Jesus vir ons die grootste geskenk is en dat ons as mense geen persente verdien nie. Ons moet ons dankbaarheid wys deur aan ons naaste Sy liefde in alle vorme te betoon. Dat ons as mense liefs tyd met geliefdes, sal sien as tyd wat geleen is...In my lewe is daar mense so kort na mekaar weggeruk...my ma, my skoonma, my sussie en nefie. As tyd ’n kommoditeit kon wees, sou dit vir my ‘n groot geskenk gewees het, wat ek aan almal kon gee. Vir die siekes, die armes, die rykes...aan almal, tyd om lief te hê, reg te maak wat verkeerd is... Tyd te gee om voluit te leef want die lewe is ‘n “One time offer” en ons moet dit verantwoordelik leef. Hier is my “Leef-tyd” storie van Kind-wees....

Ek dink ek was ’n bevoorregte kind met die pa en ma wat ek gekry het. Hulle het ons as kinders altyd eerste gestel, geen bederf nie, baie dissipline en aandag. Geld was skaars en ons het geleer om met respek en oordeel daarmee te werk. Kersfees bring herinneringe op wat seker tot my oudag my sal bybly. Ons het toe reeds op Skeerpoort gewoon en ek kan onthou ek was seker so 8 jaar oud gewees.

My ma se familie was ook woonagtig in Skeerpoort en so het ons ook altyd Kersfees saam met hulle gevier. Ma en pa was kwaai en ons moes leer om te gee. Ons het altyd klein presentjies gekry want dit was die gedagte en samesyn wat tel. Om te kon gee, was vir ons ongelooflik gewees. Ons het vir die werkers op die plaas asook die ouetehuis op Skeerpoort pakkies gepak en die reël was: self gemaak...tuisgemaak.

My oom het ‘n vragmotor gehad en dan het almal opgeklim en oral op Skeerpoort gery om vir die mense te gaan sing. Ek onthou hoe helder die sterrehemel was wanneer ons op kombersies gelê en op kyk het. Die aande was koel maar heerlik gewees. Jy het nie ’n oog toegemaak nie...jy kon nie wag.

Ouma Kittie van die ouetehuis het vir ons by die hekkie gewag en dan het pa vir haar ma se mooi mandjie met happies oorhandig. Ouma Kittie was self al baie oud...as ek nou mooi uitwerk was sy seker self al in die 70 gewees! ‘n Vrou wat hard kon werk en weduwee vir so lank as wat ek kan onthou. Ek onthou haar pyrex bak vol appelkoosblokkies met die aller lekkerste versiersel oor, ons het sommer so op ons kombersies sit en appelkoosblokkies eet. Kind wees was sorgeloos en vol speel...ja sommer baie stofpad stories en stukkende knieë. Remhoogte se pad as hy kon praat, sal seker vertel van al die draf, perdry, fietsry, vry toe ons jonk was en vassit in die modder!

Daar was ook ’n Nederlandse gemeenskappie en het ons geleer van Sinter Klaas en Swarte Piet. Swarte Piet het soms met sy trekker gekom en vir ons lekkertjies gebring. Ek was vreeslik bang vir Swarte Piet, maar later het ek saam met die ander kinders gestaan en wag op hom

So het ons deur die plase gery en gesing. Toe word my oom baie siek en kry ‘n rare leukemie en ek kan so goed onthou oor Kerstyd daardie jaar hoe siek hy was en ons het nie die gebruiklike gedoen nie. Hy is vroeg in Januarie die volgende jaar oorlede. Gys Venter was ‘n legende in die area.

Gesëende Feestyd!

BKT groete Annelien


Woensdag, 21 Desember 2016

Driebone slaai

Almal ken Driebone slaai...maar elkeen het sy eie Twist op dit. Ek dink nie ons besef hoe belangrik peul groente in ons dieet is nie. Peul gewasse se vesel dien as die besems van ons verteringstelsel. Dit bind oortollige suikers, cholesterol en ander skadelike goed vir die liggaam en neem dit uit die sisteem. So, eet meer bone!

Vir die kerrie weergawe voeg net 5 mℓ (1 t) kerrie en 5 mℓ (1 t) borrie by die sous mengsel. Verder geniet ek die dis met al die bestanddele vars en ongebraai. Maar dit is persoonlike keuse. Jy kan die resep net so volg soos in die metode. Dus, een resep met vele opsies. Geniet.

1 x 400 g-blik botterbone, gedreineer en afgespoel
1 x 400 g-blik kekerertjies, gedreineer en afgespoel
1 x 400 g-blik nierbone, gedreineer en afgespoel
15 mℓ (1 e) olyfolie
1 medium rooi ui, fyngekap
1 selderystingel met blare en al fyn gekap
2.5 mℓ (½ t) fyn komyn
65 mℓ (¼ k) balsamiese asyn
½ k (125 mℓ) rooi grapetizer
¼ t sout
¼ t vars gemaalde swartpeper

Meng al die bone in ’n slaaibak.

Braai ui in olyfolie tot sag en glansend. Voeg die seldery en komyn by en braai vir 1 minuut. Voeg die Grapetizer by en kook baie vinnig vir 5 min en verwyder van hitte.


Roer die res van die bestanddele by die pan en giet oor boontjies. Roer die boontjies goed deur en laat oornag marineer voor gebruik. Geure ontwikkel die beste.

Bron: Annelien Pienaar

Hoeveelheid: 6 porsies

Dinsdag, 20 Desember 2016

Gerookte Snoek patee

Hierdie is voorwaar ‘n treffer op menige spyskaart ek kan as voorgereg of as patee bedien word. Gelatien is die een ding waarvoor almal weg deins en ek kan nie verstaan hoekom? Want ons almal het tog iewers in ons lewe jellie gemaak? Daar is verskeie maniere om gelatien in ‘n dis te gebruik en vandag leer ek jou die makliker manier. Geen stukkies rubber of growwigheid...Jy gaan ‘n eenvormige, satynagtige smaak kry.

15 mℓ (1 e) fyn gelatien
45 mℓ (3 e) kook water
30 mℓ (2 e) suurlemoensap
45 mℓ (3 e) mayonnaise (ek verkies Cross en Blackwell)
350 g gerookte snoek, fyn gedruk (enige ander vis kan gebruik word: tuna, stokvis...moet net gaar wees)
30 mℓ (2 e) dill tippies (Cape Herb by alle kettingwinkels landwyd)
125 mℓ (½ k) room
125 g roomkaas...nie maaskaas
  
Gebruik ‘n kleinerige glas bakkie en voeg gelatien by kookwater en roer tot goed opgelos. Indien die gelatien nog korrelrig is plaas die bakkie in kookwater en roer dan tot opgelos. Jy kan wel dit in die mikrogolf doen maar die mengsel mag glad NIE kook nie. Letterlik 5 sekondes.

Voeg dan die suurlemoensap en mayonnaise by die gelatien en roer goed deur.

Plaas die snoek en room in mengbak en roer met 'n houtlepel tot glad. Voeg die roomkaas by en meng weer goed. Voeg die gelatien mengsel by en geur na smaak en meng deeglik.

Twee metodes van set:
a. Skep die vulsel in mooi glasies en stol vir 3 ure in yskas. Rond af met fyn avkado of gegeurde roomkaas of room.

b. Vorm: Spoel 'n vorm met koue water uit. Skep die mengsel in die vorm, smeer gelyk bo en plaas in yskas om te stol vir 3 ure. 

Om te ontvorm: Doop vadoek in baie warm water en droog uit. Vou oor agterkant van vorm vir 1 minuut en verwyder. Met ‘n dun punt groente messie, maak die kante van die vormpie liggies los. Breek die sëel deur aan die eenkant, terwyl die bakkie getilt is oor die bordjie, die messie in te druk en die vormpie sal uitgly op bordjie.

Bron: Annelien Pienaar, www.bosenbergguestfarm.co.za

Hoeveelheid: 4 - 6 porsies.

Feestelike Kalkoen

Kalkoen was nogal in die ou dae regtig ’n gereelde item op die spyskaart gewees. Maar namate die samelewing verstedelik het, het die gebruik van kalkoen ook minder geword. Ek dink met geboortebeperking het gesinne se getalle ook gekrimp en een hoender is genoeg om drie of vier te voed i.p.v. die span van 9 mense in die huis...net my gedagte daarop! Onthou ook dat die boere gemeenskappe baie gulhartig hul kos met verbygangers gedeel het en dit was sommer in ‘’n kits dat die voël geslag was.

Hierdie resep is geskik om op die spit of in die oond gaar gemaak te word. Vir die spit moet die kalkoen ook ten minste vir 3-6 ure gaar gemaak word en vir die eerste drie ure bedek met foelie...blink kant na buite. 

Vulsel
45 mℓ (3 e) botter
45 mℓ (3 e) olyfolie
3 seldery stingels, fyngekap met blare en al
1 medium grootte ui, gekap
250 g spek repies, gekap
250 mℓ (1 k) aftreksel (aangemaak en afgekoel)
125 mℓ (½ k) cranberries (geblik of vars)...asb moenie dit uitlaat nie...
2 k vars broodkrummels
2 e salie, gedroog (sage) tradisioneel so gebruik en werk heerlik saam met cranberries
Sout na smaak
Swart peper vars gemaal na smaak
1 ekstra groot eier

Braai die seldery, ui en spek in olyfolie en botter vir 10 minute tot deurskynend. Voeg die afgekoelde aftreksel by die uie mengsel. Roer in die pan totdat die mengsel afgekoel het.

Voeg die res van die bestanddele by en meng baie goed deur. Bind die kalkoen se bene toe sodat die holte toe as jy die vulsel in die keelgat afdruk. Jy kan dit ook andersom doen. Maak seker een-een van die twee gate toe is wanneer jy werk. Die nek kan net met tande stokkies toe gesteek word as jy klaar is. Maak seker beide kante is toe. Die vulsel sit uit as dit bak en dan stoot dit uit.

Smeer die kalkoen aan die buitekant met ‘n halwe koppie gesmelte botter, 5 e knoffel en een eetlepel paprika. Sout en peper na smaak. Maak toe met foelie en bak vir 6 ure by 150 .

Maak nou die Appelkoos sousie:
1 ½ k Appelkoos blatjang
½ k Appel asyn
1/2 t fyn knoffel
1 k Pan sous van die kalkoen

Kook alles saam vir 5 minute en bedien in mooi bekertjie.

Geniet!

Bron: Annelien Pienaar, 2016, www.bosenbergguestfarm.co.za

Hoeveelheid: Voed ‘’n nasie!

Sondag, 11 Desember 2016

Loopbeslag Skonsies

Ek wonder of hierdie skonsie nie dalk sy ontstaan gehad het weens geldelike nood en kosvoorrade wat min was in die ou dae. Ek het in my lewe al soveel variasies op hierdie veelsydige degie gesien dat dit my aan die dink gesit het. Onlangs met ‘n Koekverkoping by een van die Filistyne se skole, het ek hierdie worsie in ‘’n muffin gebak en in bakkies met tamatiesous bedien. Jy kan basies enige iets in die degie sit. Van goedkoop bestanddele, oorskiet vleis tot luukse kase!

Wat net ongelooflik is, is die feit dat die happie so maklik is om te maak. Min moeite. Kosblik happies, vingerhappies...

140 g (1 k) koekmeel
15 ml (1 e) bakpoeier
5 mℓ (1 t) sout
250 ml (1 k) melk
125 ml (½ k) sonneblom olie
2 eiers – geklits
12 gerookte rooiworsies in kwarte gesny

Voorverhit oond na 180 en berei mini kolwyntjie pannetjies met Koekepanne smeer voor.

Klits al die bestanddele saam tot glad. Giet in maatbeker met tuit om in die pannetjies te skink...

Giet die kolwyntjie pannetjies ongeveer ¾ vol en druk dan ‘’n worsie in die middel van die beslag.

Bak vir 10 – 15 minute tot gaar en gestol. Laat afkoel in pan en bedien met tamatiesous.

Bron: Annelien Pienaar, 2016, www.bosenbergguestfarm.co.za

Hoeveelheid: 48 ongeveer

Gekraakte Sjokolade koekies

Hierdie is ‘n spoggerige koekie vir ‘n geskenkie om te gee en ook om voor te sit vir ’n spesiale gas. Een van die geheime van hierdie koekie is die feit dat dit eers verkoel moet word voordat dit gebak word. Die ander geheim is die mengsel van mielieblom en versiersuiker waarin die koekie gerol word voordat dit bak. Moenie in die versoeking kom om net versiersuiker te gebruik nie...die koekie deeg se bestanddele sal die suiker oplos en die wit van die versiersuiker verdwyn tydens die bakproses.

130 g (1 k) versiersuiker
120 g (1 k) mielieblom
200 g donker sjokolade
115 g (½ k) botter of bak margarien
115 g (½ k) strooisuiker
3 eiers
5 mℓ vanieljegeursel
280 g (2 k) koekmeel
25 g (¼ k) kakao
5 mℓ (1 t) bakpoeier
Knippie sout

Sif versiersuiker en mielieblom saam twee maal in ‘n diep bak en plaas eenkant.

Smelt sjokolade en botter in dubbelkoker oor lae hitte en roer gereeld totdat die mengsel gesmelt is. Verwyder van hitte. (Onthou die water onder in die kastrol wat as dubbelkoker gebruik word mag nie die bak wat in die kastrol hang raak nie. Die water mag ook nie borrelend kook nie, want as daar net een klein druppeltjie water in die sjokolade land, skif die mengsel en word een bol. Die proses kan nie omgekeer word nie.)

Roer die strooisuiker by die sjokolade mengsel in en hou aan roer totdat die suiker gesmelt het. Voeg die eiers een vir een by en klits deeglik na elke byvoeging. Voeg die vanieljegeursel by en meng weer goed deur.

Sif koekmeel, kakao, bakpoeier en sout saam. Vou by die sjokolade mengsel in en meng goed. Plaas houer net so in die yskas vir 30 minute om te verkoel.

Voorverhit oond na 160 en berei bakplate voor met Koekepanne smeer (loer op blog).

Haal die mengsel uit die yskas en skep 5 mℓ hopies uit en rol in balletjies. (Indien jy warm hande het, hou ’n bak met yswater eenkant om jou hande koud te maak). Plaas die gerolde balletjies in die versiersuiker mengsel en skud goed om die balletjies te bedek. Ek sit so 5 op ‘n keer in die bak. Plaas versigtig op bakplaat ongeveer 4cm uitmekaar. Die koekies sprei as dit bak.

Bak vir 10-15 minute totdat die koekies redelik hard en ferm is.

Lekkerste koekies ooit!

Bron: Annelien Pienaar, 2016, Bos en Berg gasteplaas.
Hoeveelheid: 50