Maandag, 30 November 2015

GARINGTJIES VLEIS SKAAPBLAD

Ons het groot geword in ‘n gemeenskap waar daar verskeie nasionaliteite saam gewoon het. Een daarvan was die Hollanders. Ek het baie saam met my ma rond gerits as sy bestellings by mense gaan aflewer het. So het ek by die een gesin leer garingtjies vleis eet. Deesdae noem die slim mense dit “Pulled leg of,” ek noem dit soos ek dit leer ken het. Wat vir my baie interessant was, was die tannie het baie kruie en speserye gebruik vir die voorbereiding van die vleis. Die vleis was gewoonlik van ‘n ouer skaap en dan word dit vir 2 dae in karringmelk gemarineer. Die tannie hulle het kaas gemaak en dan het sy sommer die suur melk vir die doel gebruik. So met my studies saam het ek later geleer dat die “karringmelk” of amasi soos ons dit deesdae op die winkel rakke te koop kry, eintlik net suurmelk is. Regte karringmelk kom van botter af. Dit is die waterige gedeelte wat uitkom nadat die botterdeeltjies aan mekaar gaan vassit. Dus, kom ons kook regte kos!

Ek weet die bestanddele lys lyk baie lank maar die stappe in die maak proses is baie kort en vinnig, want die Hutspot doen al die werk, aka, slow cooker.


RESEP
1 Skaapblad - met of sonder been
500 ml Karringmelk
30 ml Tamatiepuree
10 ml Garam masala (sien my resep op die blog onder soute)
5 ml Komyne saad - gerooster (cumin)
5 ml Vars gemmer - gerasper
15 ml Vars roosmaryn
30 ml Suurlemoensap
1 Suurlemoen se skil
8 Knoffel toontjies - grof gekap
Sout en peper na smaak
125 ml Rooiwyn - gooi later eers by

GARNERING

50 ml Sesam saad
50 ml Sprietuie - fyn gekap

METODE

1. Meng al die bestanddele met mekaar en vryf oor die vleis. Laat die vleis vir 2 dae sag word en draai die vleis elke halwe dag.

2. Plaas die vleis in die slow cooker en laat dit vir 8 ure gaar word op high. Verwyder die vleis uit die pot en plaas op drup rakkie en verbruin in die oond.


3. Daar sal ongeveer 500 ml vleis sous in die slow cooker oorbly, verwyder die sous en kook dit oor matige hitte totdat die vloeistof met die helfte weg gekook het om ‘n dik sous te vorm. Voeg ongeveer 125 ml rooiwyn by en kook deur. Bedien saam met die vleis as vleis sous.



4. Hierdie vleis kan so wonderlik aangewend word. Deur die vleis in garingtjies te verwerk, trek jy die vleis met vurke van mekaar weg. Hierdie vleis word dan met die vleis sous klam gemaak om te voorkom dat dit uitdroog. Ek bedien dit saam met somer slaai soos Waldorf op ‘n oop broodjie, of saam met cous-cous of lekker mielierys. Jou keuse. Lekker eet!

HOEVEELHEID: 6 - 8 mense. 


BRON: Annelien Pienaar, www.bosenbergguestfarm.co.za, 2015.



Sondag, 29 November 2015

VOLKORING BESKUIT

My gunsteling resep om te maak en gesond daarby. 

RESEP
1 kg Nutty wheat
1 t Kremetart
2 t Koeksoda
2 t Bakpoeier
5 ml Sout
250 ml Semels (bran)
250 ml Hawermout (oats)
250 ml Klapper
250 ml Papawersaad - kan met roulyn saad vervang word (ryk in omega's)
250 ml Pekan neute - fyn - opsioneel
250 ml Sesame saad
125 ml Fat free, suga lite yoghurt van keuse
4 Eiers - geklits
500 ml Karringmelk (kan verder vervang word met fat free yoghurt)
25 ml Natreen liquid
500 g Margarien - reduced fat

METODE

1. Voorverhit oond na 180 ˚ C en spuit oond panne vir die bak van die beskuit.

2. Meng al die droë bestanddele saam en roer goed deur. Maak ‘n gaatjie in die middel.


3. Meng nou al die nat bestanddele saam en voeg by die meelmengsel. Roer dit goed deur en druk in gesmeerde bakplate. Sny die beskuit beslag voor af in vingers en bak vir 30 minute tot mooi goud bruin.


4. Laat die beskuit goed afkoel voordat dit uitgekeer word. 


5. Droog by 100 ˚ C vir 5 ure of oornag.


6. Verpak in lugdigte houers of kan ook bevries word.


HOEVEELHEID: 50 vingers.


BRON: Hantie Bezuidenhout. 2015, www.bosenbergguestfarm.co.za


LOW GI PIESANGBROODJIE

Die lewe met ‘n diabeet in die huis is nie maklik nie. Ek het groot geword met ‘n jonger sussie wat insulien afhanklik was vandat sy 6 jaar oud was. Vele kinderpartytjies moes mis weens al die lekkergoed op partytjies. My mM het ‘n stryd met haar gehad, veral toe sy koshuis toe is en as sy naweke tuis gekom het was haar suiker deur die dak. Die maats het te heerlik vir haar lekkergoed gevoer. Diabete verdien om bederf te word, maar nie ten koste van hul gesondheid nie. 

Die versoeter wat ek gebruik verskil van situasie tot situasie. Indien jy insulien weerstandig is kan jy nogsteeds die bruinsuiker gebruik. As jy vol diabeet is kan Xylotol of my eerste keuse Natreen wees. Die liquid Natreen bak en kook die beste. Wees asb versigtig vir die Xylotol omrede dit in oormaat winderigheid, koliek, maagkrampe en diaree kan veroorsaak. Die broodjie is donkerder as die gewone piesangbroodjie waaraan jy gewoond is weens die ontbyt graan. Jy kan ook individuele kolwyntjies bak vir die kosblik en die gaar muffins of broodjie vries ook goed. Dit verlaag ook die GI verder indien dit eers verkoel en dan weer verwarm word.


RESEP
2 Piesangs - fyn gedruk
30 ml Suurlemoensap
1 Appel - gerasper met skil en al
100 ml Melk - vetvry
250 ml High fibre bran ontbyt pap
10 ml Canola olie
125 ml Sagte bruinsuiker of 100 ml Xylotol of 1e Liquid natreen
1 eier
250 ml Koekmeel
10 ml Bakpoeier
2 ml Sout
5 ml Vanielje geursel

METODE

1. Voorverhit oond na 180 ˚ C. Smeer ‘n 25 cm broodpannetjie en plaas eenkant.

2. Meng die fyn piesang, appel en suurlemoensap saam en bedek.


3. Verhit die melk en gooi dit oor die ontbyt graan en los dit om sag te word. Sodra dit sag is maak dit verder fyn met ‘n vurk.


4. Verroom die olie, suiker en eier tot glad vir ongeveer ‘n minuut. Sif die koekmeel, bakpoeier en sout saam. Meng nou al die bestanddele met mekaar goed.


5. Skep in pannetjie en bak vir 60 minute. Skakel dan die oond af en laat die brood nog 10 minute in die oond rus.


VOEDINGSWAARDE VAN ELKE SNY 

GI: 59 
Carbs: 19 g 
Protein: 3 g 
Vet: 1 g 
Vesel: 3 g 
KJ: 424 
GI load: 11 

HOEVEELHEID: 1 broodjie.


BRON: Diabetiese vereniging van Suid Afrika, 1998, verwerk deur H Bezuidenhout.


ANNELIEN ANTWOORD LESERS SE VRAE OOR HAARSELF

WAT DOEN ANNELIEN VIR 'N LEWE?
Werk op my man senuwees op die plaas....Nee, ek is 'n dosent in Voedsel wetenskappe en leer mense Sourdough brood bak, kaas maak, kook, bak en gesond leef. Die klasse word vanaf my gastehuis se kook ateljee gedoen. Dus is my werkplek op die plaas. Soms reis ek deur die land om elders opleiding te gee...maar ek beperk dit deesdae om meer tyd by my gesin te spandeer. Ons boer met Pekans en het ‘n Dorper stoet. Beide ek en my man het ons beroepe in die stad gelos en op die plaas ‘n bestaan uit gekap.

HET JY KINDERS?

Ja, drie Filistyne! Seun 16, Seun 12, Dogter 4.

HOE OUD IS JY?

So oud soos ek voel...bloed jonk met baie plooie en alles begin hang!

HET JY AL FOUTE IN DIE LEWE GEMAAK?

Ja, ek het mense al in die steek gelaat met werk waarby ek nie kon uitkom omdat ek nie “nee” kan sê nie. Dus, werk ek net vir myself en doen nie projekte wat gratis is nie. Ek vloek soos ‘n matroos elke dag, dus rand ek niemand fisies aan nie....ek is te besig om tyd te kry om te gaan oefen!

WAAR BLY JY?

Tussen die hemel en die hel...Wel in die somer as die weer lekker is, is dit hemels, maar as dit begin warm word November en Desember dan is die hel se deure behoorlik oop! Skeerpoot, wes van die Hartbeespoortdam.

WAT MAAK JOU KWAAD?

Mmmmh...as jy nie kan dankie sê nie! As mense te egoisties is om erkenning te gee aan ander se harde werk. Dit is die een les wat ek op die harde manier geleer het toe ek ‘n jong junior dosent was. Die baas na wie ek opgekyk het, het my in die hospitaal gebel om te hoor waar my bestelvorms is sodat die volgende dosent kan aangaan waar ek opgehou het. Ek was in premature kraam met my eersteling en sy het nie eens gevra hoe dit gaan nie. “Business as usual”. Daar het ek myself voorgeneem om dit 'n instelling te maak...hoe gering die daad van 'n mede mens was...jy SAL erkenning gee en dankie sê Annelien. Dus my moer-meter gaan deur die dak as jy net vra en vra en aan neem...dankie is beter as blomme, sjokolade of ‘n sak vol geld! 

HOEKOM IS JY 'N NO NAME?

Mmmmh ek weet nie? Weet jy? Man, ek het akedemie bo glitz en glamour verkies. Nadat ek weg is uit die Tersiêre industrie het ek my man help werk aan ons droom. Om ons famlie plaas te ontwikkel sodat dit eendag vir ons oudag ‘n inkomste kan genereer en ook vir toekomstige generasies. Ek het die voorreg gehad om my kinders groot te kon maak op die plaas en op die ouderdom van 3 vir die eerste keer speel groepie toe laat gaan. Ek het my kinders voor my beroep gestel.

Met my Moeder se afsterwe het sy my maak belowe dat ek nie my “God gegewe Talent” om mense te leer en ook my passie vir kos te verwaarloos nie. Sy het my dit op die hart gedruk dat “Jou tyd het nou gekom, om te begin werk aan jou eie droom, jou tyd is nou...blom!” Kyk vir my Ma het jy liewers nie iets belowe as jy dit nie gaan doen nie...dus het ek mooi en lank gedink oor haar woorde voordat ek die belofte gemaak het. En wel, dink jy nog ek is ‘n no name? Ek is Annelien Pienaar en trots op wie ek is en waar ek vandaan kom!


WANNEER SIEN ONS 'N RESEPTE BOEK VAN JOU?

Moeilike vraag... Ek het al na ‘n konsep gekyk om te laat publiseer en die een ding is verseker, jy gaan nie geld maak uit die boek nie. Het jy geweet dat oor die algemeen die Publishers vir jou net 10% komissie gee op elke gedrukte kopie wat verkoop en dan 40 - 45% op eboek formate? Dus, as ek ‘n boek gaan publiseer sal ek my kop moet laat lees. Ek het 6 jaar se navorsing in hierdie spesefieke boek ingesit...en dit vir 10% komissie...ek weet darm nie! Daar is wel ander bronne wat ek ondersoek om self te publiseer en te laat druk...maar dit gaan nog ‘n lang tyd wees voordat ek dit kan doen. Ek sal self die verspreiding en versending moet doen en tans is ek te besig om sulke goed ook nog by my skedule in te werk. 

As ek ‘n boek sal publiseer sal dit die Boerekos met ‘n Twist resepte met 'n les wees. Daar is soveel Afrikaanse boeke wat presies dieselfde goed alreeds gedruk het, maar...geen lesse! Dus, het ek wel ‘n boek wat “uniek” is waaraan ek werk, maar dit kos geld om die fotografie, styllering van elke dis en editing te doen. Maar niks haas my nie, die boek moet eksie perfeksie wees...Gee tot so einde volgende jaar en dan sal ek dalk in 2017 publiseer op MY terme.


HOEKOM SKRYF JY NIE IN VIR GREAT BRITTISH BAKE OFF, MASTERCHEF SA, KOKKEDOOR OF KOEKEDOOR NIE?

Mmmmh....ek het al vir kook kompetisies ingekryf en ‘n wonderlike les geleer met die een spesefieke reeks. In die tyd wat die reeks geskiet was, is my Ma oorlede en ek weet dit was ‘n hoër hand wat die beoordeelaars se oë vir my toegemaak het. Daar het ek ook besef ek is nie iemand vir die kamera’s nie. Ek wil nie voor gesê word wat ek moet doen of sê...ek is nie ‘n akteur nie. In my eie kombuis op my “turf” is ek ‘n entertainer in eie reg. 

RAAK JY NIE BANG OM VOOR GROOT GROEPE MENSE DEMONSTRASIES TE DOEN NIE?  

Ja, mens is in die begin bang vir die hordes voor jou...maar dan haal ek diep asem en sien die mense voor my as ‘n groepie studente en spring dan weg. Ek geniet dit om mense by die prosesse te betrek want dan staan ek ook nie alleen agter die toonbank nie. Ek maak seker dat al my voorbereidings die aand voor die tyd gedoen is en my kar gepak is. My check-list is altyd in my gatsak.

WATTER DISSIPLINE IN KOOKKUNS VERMY JY?

Skulpvis, omdat ek allergies is daarvoor. Dit is vir my die grootste frustrasie as ek dit voorberei (met die nodige handskoene) ens, as ek dit kan ruik maar nie mag proe nie. Dit is soos om letterlik ‘n resep uit ‘n boek te moet kook en te vertrou dit gaan lekker uitkom. Ek lees wel wyd oor die onderwerp en diegene wat my seekos proe is vol lof. Maar ja, ek vermy dit as ek kan.

WATTER DISSIPLINE VAN KOOKKUNS IS VIR JOU LEKKER?

Artizan brode en sagte kaas. Dit is my “ultimate” kuierkos, huiskos, trooskos! Dit is die kos waar al jou vriende, familie en kennisse om die tafel sit met ‘n wyntjie en die brushetta platters bydam en proe-proe kuier.


WAT WIL JY NOG BEREIK IN DIE LEWE?
Ek wil my “Wood fired” oond buite die ateljee klaar bou...het reeds die gietyster deure en bakstene...nog net bou. Dan wil ek elke naweek regte Aritzan brode vanaf Bos en Berg gasteplaas verkoop asook ‘n Tappas styl restaurantjie net vir die brood. Tans bak ek en verkoop Artizan brode wat in ‘n elektriese oond gebak is, en wel, dit is nie te vergelyk nie! Dan wil ek baie graag my aanlyn klasse vir die Sourdough en sagte kaas aan die gang kry in 2016 en verder werk aan my boek.

Maar vir nou werk aan my Boerekos met ‘n Twist droom...om duisende te bemagtig met kennis...geen dief kan kennis steel nie!


Seën wense

Annelien, November 2015.




BOEREWORS

Ek het groot geword met ‘n jaarlikse bees, skaap, vark en hoender slag ekspidisie elke winter. Ons was twee gesinne wat saam vleis verwerk het...my Ma en haar sussie. Ons het vir twee weke lank gewerk aan al die vleis. Die bees het 14 dae gehang en dan was die karkas binne 4 ure opgesny, verpak, wors gemaak en biltong ingesout. Die skaap vetjies was vir die droë wors gebêre en die varkie was mooi opgesny en die boude gesout en berook. Ek kan onthou hoe ek die rou wors bly proe het totdat my Ma my gevra het of ek nog nie wurms het van al die rou vleis nie. Vandag doen ek dit nie meer nie want ek weet van al die gevare van rou vleis!
Wanneer my Ma hulle die eerste wors begin stop het ons ‘n kilogram of twee dadelik geneem en op die reeds warm kole gaan braai. Dit was altyd ‘n instelling en tot vandag toe doen ons die tradisie gestand. 

Alle kruie wat in hierdie resep gebruik word, word self gerooster en vars gemaal vir optimum geure!


Wanneer mens wors maak moet jy die vleis nie te veel meng met die hand nie. As jy die vleis te veel meng gaan die wors ‘n digte, swaar en kompate tekstuur hê. Dus goeie kwaliteit boerewors is lig en los van tekstuur, sappig en maak ‘n heelike sousie in die pan, bietjie vet op die bodem van die pan wat met ‘n stukkie brood opgeslurp word vir daardie ekstra lekkerrrr.


RESEP
32 kg Beesvleis - al die afvalstukkies van bene na verwerking gesny, geen senings, kliere ens.
Hamburger patties van die worsmengsel
7 kg Vet - sagte binne vet van bees (vervang die skaapvet met nog beesvet indien jy nie skaap eet)
1 kg Skaapvet
600 g Sout
50 g Woestersous sout of Aromat
60 g Swart peper - grof gemaal
40 g Naeltjies - fyn
40 g Neutmuskaat - fyn
310 g Koljander saad - gerooster en grof gemaal
750 ml Woestersous - dik taai soort nie waterige goedkoop goed nie!

METODE
1. Hier is een geheim wat ek kon onthou my Ma vertel het: Meng 1 liter yskoue water vir elke 10 kg vleis in die maalvleis mengsel in. Dit dra by tot sappigheid, sousie en maak die stop werk makliker. Wanneer jy droeë wors maak, haal die water uit anders gaan jy nie daardie worsie droog kry en allerlei gogga’s gaan groei en die vleis vrot maak!

2. Berei die stop derms voor. Hier verkies ek om dierlike derms in plaas van die sintetiese goed wat sommer bars vir niks te gebruik. Maar dit is jou keuse. Derms is gelukkig baie goedkoop. Maak net seker dit is goed skoon gemaak en laat dit in sout water week voordat jy dit gebruik.

3. Sny die vet en vleis in klein blokkies en sprinkel al die bestanddele oor die vleis en meng baie goed deur (behalwe die yswater). Dan sit die vleis deur die meule. Voeg die koue water by en meng liggies met ‘n hout lepel deur en moenie die mengsel oor werk nie. As jy die meng werk so doen voorkom jy dat die vleis oorwerk word en nie ‘n hengse kluitjie in die dermpie vorm nie. Dus moenie eers maal en dan geur nie...doen dit voor die tyd.

4. Stop die dermpies asb nie te styf nie, dit gaan bars as dit opgerol word vir verpakking en ook tydens die gaarmaak proses.  

5. Braai nou ‘n stukkie om die lekkerte te geniet wat jy gemaak het! Ek gebruik ook hierdie mensel vir patties vir hamburgers. Hier voeg en net gedroogde knoffel en uie vlokkies by as daar bietjie van die vleis mengsel oorbly nadat jy gestop het. My Ma het altyd so 2 kg vleis uitgehou vir die patties maak. Sy het dit dan in 'n groot salami casing gestop en dan gevries. Dan het my pa dit met die vleis saag in skywe gesny.

HOEVEELHEID: 40 kg wors.

BRON: Hantie Bezuidenhout.
Verwerk deur Annelien Pienaar (Bezuidenhout), 2015, www.bosenbergguestfarm.co.za

Donderdag, 26 November 2015

GEMARINEERDE ROMA TAMATIE EN AVOKADO SLAAI

As daar nou een ding is wat nie twee is nie, dan is dit 'n hele avo net vir my! Marineer tamaties en die slaai neem 'n nuwe dimensie van smake en geure aan. Bederf jou gesin en vriende met hierdie smaaklike en ook gesonde slaai saam met 'n braai. Vinnig en maklik!

RESEP
500 g Roma tamaties - gewas en halveer
80 ml Olyf olie
40 ml Appel asyn
5 ml Basil - gedroog of 15 ml vars
5 ml Pietersielie - gedroog of 15 ml vars
5 ml Origanum - gedroog of 15 ml vars
1 Knoffel toontjie - fyn gedruk
2.5 ml Sout
10 ml Heuning

METODE

1. Hou die tamaties eenkant en meng die res van die bestanddele goed saam. Voeg nou die tamaties by en laat in die yskas marineer vir 2 ure of langer. 

2. Dreineer die mengsel deur 'n siffie en sprinkel die blare wat jy opgevang het oor die tamties vir garnering.


AVOKADO SE AANMEKAAR SIT

6 Avokado pere, gehalveer en met suurlemoensap gesmeer om verbruining te voorkom.
50 ml Suurlemoensap
Neute van keuse grof gekap, gerooster indien verkies
Vars rocket of basillie kruid blare vir garnering

METODE

1. Pak die avo halwes met die tamatie mengsel en sprinkel met geroosterde neute. Sprinkel grof gekapte kruie bo oor. Hierdie slaai kan vooraf gemaak word en so in die yskas gestoor word en dadelik bedien word. 

BRON: Annelien Pienaar. 2015, www.bosenbergguestfarm.co.za

WALDORF SLAAI

Hierdie is ongetwyfeld een van my gunsteling slaaie. Hoekom? Wel, dit bevat seldery wat water afdryf en ook ander gesondheids eienskappe bevat. Dan natuurlik die “apple a day keeps the doctor away”! Die resep kan twee soorte appels bevat: Granny Smit en ook Starking of Pink lady, jou keuse. Met dit saam kan jy gedroogde rosyne, pruimedante, cranberries of vars druiwe in sit. Neute soos die Wallnut word gekenmerk in hierdie dis vandag. Ek geniet dit om die slaai saam met vis soos Salm, Tuna wat gebraai is asook hoender en kalkoen te geniet. Veral met die oog op feestye sal hierdie slaai heerlik wees vir die oorskiet vleise vir almal om die volgende dag te geniet. 

Ek vervang die mayonnaise met karringmelk of gewone yoghurt om die vetinhoud laag te hou. Dus jy kan speel met die tipe romerige slaaisousie wat jy wil op sit. 


Die geskrifte vertel dat ‘n man met die naam Oscar Tschirky die resep ontwikkel het vir die Waldorf-Astonia hotel in Amerika. Hy was die Maitre d’hôtel en was baie kreatief met kos en het vele sulke “signature” disse vir die hotel ontwikkel. Die oorspronklike resep het nie neute bevat nie en by die tyd dat die resep gepubliseer was in “The Rector Cook Book”, in 1928 het die mense dit self begin byvoeg.


RESEP
3 Rooi appels met skil - klokhuis verwyder - in blokkies gesny van ongeveer 1.5 cm
3 Granny Smit appels met skil - klokhuis verwyder - in blokkies gesny van ongeveer 1.5 cm
3 Seldery stingels - drade verwyder - in dun skyfies gesny
½ k Rosyne of gedroogde vrugte van keuse
½ - 1 k Neute van keuse - Wallnuts of Pekans werk die beste
½ k Cross en Blackwell Mayonnase
½ k Karringmelk of gewone yoghurt
15 ml Versoeter of suiker

METODE

1. Meng al die bestanddele goed saam en laat vir 1 uur in die yskas voordat dit bedien word.

HOEVEELHEID: 4 - 6 persone.


BRON: Christa Pienaar, 1995, Linquenda equestrian estate. (Dankie Skoonsus), www.bosenbergguestfarm.co.za



Woensdag, 25 November 2015

PEPSI EN SY DINGE!

Pepsi, 2009
Onlangs gaan stap ek en my man deur ons boord en wat sien ek bo in die boom? 
Een van my perde se lungelines. Dit is basies ‘n lang sterk tou waarmee jy die perd werk tydens oefensessies en ook bad, dip en algemene versorging. Nee, hulle bind tou is te grof om takke wat swaar is te stut, so nou word al my ou perde toerusting aangewend vir allerlei plaas instandhouding.

Veeldoelige Lungeline!
As ek dink hoe daardie einste tou een van my kinders se Welsh cobs (ponie van so 13 hand) se nonsens uit hom gewerk het. Sy naam was Pepsi en vrek stout! Hy was super intelligent, kon deure vir al die ander perde oopmaak, die skape aangejaag huistoe as dit slapenstyd word en die ganse se eiers geëet! Hy het vir my soos 'n stout tiener seun gelyk , wie se hare altyd in sy gesig hang in sulke slierte en wind verwaai. Sy stert het op die grond gehang en as dit tyd word vir sny het die knaap ons laat bontstaan! Want die geluid van die geritsel van die skêr het hom baie vies gemaak. Jy kon jou vingers in sy ore steek, sy stert oplig, onder hom deur kruip, agter hom staan, inspuit, orale ontwurming toedien, bom proof...maar die skêr en hy was nie maats! Hy was sterk gebou, laat is sy lewe reg gemaak en daarom die groot sterk nek. Hy was vet voordat ons hom aan 'n ryskool vir outistiese kinders geskenk het. In 'n ring was hy 'n engel vanself...maar in die oopte...wel dit was 'n storie van sy eie!

Die dag toe ons vir Pepsi kry...wel het hy letterlik al my jare se kennis van perde werk en inbreek getoets tot die vlak wat ek hom wou skiet! Op ‘n dag sukkel ek weer met sy saal. Hy het ‘n kort rug en ‘n vet appelboud gehad. Ek het nog nie die regte saal gevind vir die kalant nie. My man het baie met my gestry dat ek vol dinges is oor die saal en ek het toe maar gekies om hom bloots te ry. So, kom pappie op ‘n dag met ‘n saal nader en ons sit die saal op en ek klim die perd, hy gee twee draaie en ons vat pad om die boord. Ons kom terug in die kampie en en hy bok, ek bly bo, hy swaai daai vet agter ent en die saal gly en ek val met my heup in ‘n gat. Ek bly lê want iets het gekraak en ek weet nie wat! Pepsi kom ruik so ewe wat aan die gang is en ek is dik de hel in vir sy nukke en die saal affêre.

My man kom aan gehol en gryp die perd, draai die saal reg en klim met sy 80kg op en jaag met die perd af lande toe om sy gal te werk. Soos ek daar lê vlieg ‘n TB merrie vul verby my agter die jaag-tog aan en halfpad vang sy op. Maar die beeld wat nou nog in my kop vas steek is hoe die merrie vul met haar boepensie en lang elegante bene langs Pepsi hardloop met die terug kom slag...Wat sien ek, my man gee vrye teuls, ek sien sy lyf skuif al hoe meer na links en soos asof in stadige aksie, val die man mos ook af van Pepsi. Skoon vergete is my pyn dat ek opspring en hol dat die stof strepe agter my sit...want my man lê plat in die pad, hy lig nie eens ‘n vinger. Die twee perde wei eenkant asof niks gebeur het nie. Ek vloek weer ouder gewoonte sulke lang stringe! Daar gekom vra ek op ‘n afstand...”Leef jy?”, “Ja, maar iets bloei”. Ek laat my man stil lê en maak seker sy nek is reg en die rug is ok.

Sy duim is oop gekloof deur die leisels en dit is steke stories. So loop ons twee met ons arms om mekaar want beide het ondersteuning nodig. Dik vies vir die verdomde ponie wat ons so seer gemaak het ry ons so vuil hospitaal toe. Kom by ongevalle aan en die suster kyk ons twee vuil mense met die drie skoon kinders skeef aan. Nou moet ons die opname vorms invul en verduidelik wat het gebeur. Ek moet vir ekstrale gaan en my man vir steke. So sit ons twee in die ondersoek kamer en wag vir die dokter om ons te ondersoek en die steke te doen. Die dokter kom in en lees vlugtig die papiere deur en vra so ewe droog: “ Nou vir wat ry julle saam op een perd, gin wonder julle het so seer gekry nie!” Nee, kyk ons bars in ‘n histeriese lagbui uit, besef die man nie die arme ponie sou plat op sy pens, wydsbeen gelê het as beide van ons op hom was!

Ja...daar is nog stories van Pepsi...dit kom met tyd...lekker lag vir ‘n stoute perd, met ‘n klein lyf en ‘n hart soos ‘n leeu!

Groete Annelien Pienaar

Dinsdag, 24 November 2015

SALAMI - OLYF EN FETA SALSA


Hierdie mengsel skree vir my kuierkos. Bak ‘n heerlike Ciabata of ‘n Sourdough Baugette en die Kaap is Hollands! 

RESEP
10 Salami velletjies - fyn op gesnipper
250 g Feta kaas - gefrummel
1 kop Son gedroogde tamaties - gehidreer in kookwater en gedreineer - fyn op gekap
1 kop Swart olywe ontpit en grof gekap
1 kop Groen olywe ontpit en grof gekap (as jy nie van die kleur hou nie, maak dit net een)
30 ml Kappertjie saad -  grof gekap (capers)
30 ml Roosmaryn - vars gekap
30 ml Knoffel - fyn gemaak
1 kop Olyfolie
Sout en peper na smaak

METODE

1. Doen al die voorbereidings soos hierbo uiteengesit en meng die bestanddele met mekaar. Laat dit oornag in die yskas marineer.

2. Bedien met vars brood as ‘n voorgereg of as ‘n doopsousie vir soutkoekies en -beskuitjies


HOEVEELHEID: 450 - 500 g.


BRON: Christo de Beer. 

Getoets en gestandardiseer deur Annelien Pienaar, 2015, www.bosenbergguestfarm.co.za

BASIESE SKONS MET 'N PAAR TWISTS!

Ek onthou nog so goed toe ek die eerste keer in my lewe my Ouma se skon resep gebak het. 
Ooo, wee, die hand was maar swaar op die bakpoeier en al wat jy geproe het was seep en ‘n snaakse smaak wat nie wou weg. Maar later het mens mooi gelees en versigtig te werk gegaan met die kosbare bestanddele wat al jou werk ‘n gemors of sukses kan maak.

Vir variasie in die resep kan jy 1 koppie kaas of spek inbring. Of jy kan na ‘n soeter weergawe gaan deur makataan of gemmerstukke, rooi ui marmelade selfs koekmengsel by te voeg, sal heerlik proe. Hier sal ek net ‘n halwe koppie op die beslag insit. Wat van sitrus skil met saadjies soos papawersaad? Dus speel lekker!


RESEP
Hoekom rond as jy kan anders wees?
400 g Koekmeel
5 ml Sout
20 g Suiker
25 g Bakpoeier
140 g Botter
230 g Melk, ja jy het reg gelees gram! Die maatbekers is nie reg gemerk nie!!!
1 Eier - net vir die bestryk van die deeg voor bak vir mooi bruin kleur

METODE

1. Voorverhit jou oond na 180 ˚ C en smeer bakplate vooraf.

2. Sif die koekmeel, sout, suiker en bakpoeier saam. Plaas die meel en die botter in ‘n voedsel verwerker en meng dit totdat dit soos broodkrummels lyk. Gooi die mengsel terug in die bak.

3. Maak ‘n dammetjie in die middel van die meel en voeg die melk en addisonele bestanddele by.

4. Meng die deeg BAIE liggies, dit kan nog klonterig voorkom. Keer die inhoud op die werksoppervlakte uit en druk effens plat, ongeveer 4cm dik. Druk nou vormpies uit en plaas op bakplaat.

5. Bestryk met geklitste eier en bak by 180 ˚ C vir 20 - 30 minute afhangende van die groote van die skons.

HOEVEELHEID: Ongeveer 12 x 7 cm sirkels.

BRON: Annelien Pienaar. 2015, www.bosenbergguestfarm.co.za

Saterdag, 21 November 2015

MEBOS

As ek dink aan my kindertyd en hoeveel Mebos ek geëet het, het ek nie meer nodig om te wonder waar my boepensie vandaan kom nie! 
Ons het ‘n appelkoos boord gehad en die Vader allenig weet wat my besiel het elke jaar, maar die gietergat situasie het my nooit gestop nie. 
Ons perskes en appelkose was so soet weens die tipe grond waarin dit gegroei het. 
As jy dit so oop gesny het, het die sous soos dik stroop drade gevorm as jy die lagies skei. 
Die smaak was altyd intens en heerlik. 
My Ma het altyd perske rolle en mebos gemaak.

Vir diegene wat nie weet wat Mebos is nie, wel dit is maar ‘n puree van appelkoos hoofsaaklik wat dan in bolletjies gerol was in die ou dae. 

Daarna was dit plat gedruk en gelos om effens droog te word. 
Dit was dan in lagies botter papier verpak met ekstra suiker oor. 
Dit kan lank op die rak bewaar word. 
Moet nooit op die suiker minder maak nie, dit is juis die preserveermiddel wat bakteriële groei en swamme teë werk.

RESEP
1.5 kg Appelkoos helftes - gedroog
Kookwater
15 ml Sout
1.5 kg Wit suiker
Ekstra suiker vir oorsprinkel vir die wegpak slag

METODE

1. Plaas die appelkooshelftes in 'n groot pot en bedek met kokende water.
Laat die appelkose in die water uitswel vir niks meer as 10 minute nie.
Die idee is om die appelkose effens te laat uitswel om die maalproses makliker te maak ander word dit te pap.

2. Spoel nou die appelkose af in koue lopende water en dreineer soveel as vog moontlik.
Druk dan droog met lappe sodat die meeste vog af is en die appelkose droog voorkom.
Ek laat die appelkose vir so 10 minute op 'n lap lê nadat dit droog gedruk is om net effens wind droog te word.

3. Plaas bietjie vir bietjie van die appelkose in 'n voedsel verwerker en kap so fyn as moontlik.
Indien jy nog 'n vleis meuletjie het of 'n elektriese een op jou menger, sal dit ook perfek werk.

4. Voeg nou die sout en suiker by die mengsel en meng baie goed deur sodat die suiker kan oplos asook die sout eweredig kan versprei.
Laat die mengsel vir 1 - 2 ure met 'n net bedek staan voordat jy begin vorms maak.

5. Jy het 'n hele paar opsies om die vorms te maak.
Tradisioneel rol jy balletjies van ongeveer 15 - 20g en druk dit met die palm van jou hand plat soos 'n pattie, of jy kan dit in 'n pan druk en dan vormpies druk, of rol stafies of sny in vierkante.
Jou keuse.

6. Laat die lekkers weer droog vir 1 - 2 ure en draai dit halfpad om sodat die ander kant ook kan droog voordat jy dit in die ekstra suiker rol.
As jy 'n sif het werk dit ook wonderlik.
Pak dan die mebos in lugdigte houers met lagies waspapier om vaskleef te voorkom.

WAARVOOR WORD DIT GEBRUIK?
Ek gebruik dit in my koeke wat ek bak, muffins, mousse, versiersels of vir my kinders se skool kosblikke vir 'n energie happie.
Vir vleis geregte soos potjies, hoender disse, selfs in my yoghurt.
Maak dit deel van jou marinade en dit transformeer enige taai stuk vleis.
Appelkoos is baas!

HOEVEELHEID: 50 - 100 stukke afhangend van groottes.

BRON: Annelien Pienaar. 2015, www.bosenbergguestfarm.co.za


FOTO: www.driedfruitandherbs.co.za

Vrydag, 20 November 2015

BOEBER


Onlangs stap ek deur Woolworths opsoek na my gunsteling perkuleer koffie toe ek voor die yskas vas steek en my kleintyd Boeber gewaar. Kan dit waar wees?  Ek het al vergeet van dit. As ek mense vra of hulle boeber ken dan dink hulle dit is ‘n opgemaakte woord soos kinders maar sou doen. Dit proe amper soos melkkos maar die speserye daarin maak dit uniek asook die neute en rosyne. Ek lees die bestanddele van die pakkie en neem ‘n foto van die etiket. Ek loop dadelik na Pick ‘n Pay en koop toe al die bestanddele wat gelys is op die etiket. Kom by die huis en vergeet ek moet vir die gesin kosmaak. Spring dadelik in en doen al die voorbreidings. My man staan my skewe kop en kyk en vra: “Is dit al weer sulke tyd?”, en ek antwoord net “Ja”. Dit beteken ek is nou in stoomroller “mode” en nou moet almal my uitlos.

Die volgende oggend toe die Filistyne almal weg is skooltoe en die groot Filistyn lande toe gaan, spring ek in om die planne aan mekaar te sit. Dit was ongelooflik hoe die legkaart se stukkies begin inmekaar pas. Met ‘n proe en gooi nog van hierdie en daardie in het ek by die smaak wat ek herken het van my kinderdae uitgekom. Dus hoop ek julle gaan hierdie ook geniet! Boeber is ‘n Kaap Maleise dis wat oor Ramadaan geëet word op die 15de dag. Dit het altyd kaneel, kardamom en amandels of klapper repe in.

O, ja, ek het toe vergeet om die koffie te koop!

RESEP
1 liter Melk - volroom is net lekkerder
1 Kaneel stokkie
50 g Suiker
3 Kardamom sade
100 ml Sultanas
50 ml Amandels skywe - gekap of klapper repe - gerooster
20 ml Sago - geweek in 50 ml water vir 'n uur of oornag
100 g Vermicelli

METODE
1. Plaas die melk, kaneel en kardamomsade in ‘n swaarboom kastrol wat diep genoeg is dat die mengsel nie sal oorkook nie.
Verhit die mengsel tot by kookpunt.

2. Voeg nou die sultana’s, amnadels, sago en vermicilli by.
Prut oor stadige hitte totdat die die sago deurskynend is en die vermicilli sag is.
Roer die mengsel af en toe om aanbrand te voorkom.

3. Indien die mengsel vir jou te dik lyk kan room of melk bygevoeg word.

4. Bedien warm met kaneelsuiker of heuning of eet net so.

HOEVEELHEID: 4 - 6 porsies.

BRON: Annelien Pienaar. 2015, www.bosenbergguestfarm.co.za, klasse


Donderdag, 19 November 2015

KENWOOD ELEKTRIESE STAANMENGERS - VERSTEL JOU SPANE VIR OPTIMALE MENGAKSIE

Kenwood Major Titanium
Ek wil graag ietsie van die Kenwood staan mengers vir julle verduidelik. Ek het agter gekom toe ek as dosent gewerk het by ‘n Tersiêre instansie in Pretoria, dat die mengers nie deeglik tot onder meng nie. Dit het my grensloos irriteer en ek het die boekie van Kenwood van voor tot agter deur gelees en niks wyser geword nie. Wat gebeur is, dat iets wat jou tyd moet spaar jou later tyd kos! Jy meng stop en skraap af, dit was mos nie die idee nie? Was dit?

Eendag staan ek weer die monster van ‘n menger en begluur. 
Dink toe by myself daardie ding het mos ‘n moer aan die haak. Dus, as daar iets is wat kan draai dan beteken dit daar is ‘n doel vir die moer! Stap na die opsigter en vra vir ‘n paar moersleutels. Gaan terug na die Lab en begin elke menger se haak te stel. Ek het toe besef dat die spane te kort is en dus laat sak moet word tot omtrent 2 mm van die bak se bodem. ‘n No 19 moersleutel is die regte grootte vir die moer. Maak nie saak watter model,’n no 19. Daardie dag het ek Kenwood oorwin.

WAT OM TE DOEN AS JOU STAANMENGER NIE MOOI AL DIE DEEG VAN ONDER MENG NIE
As jy na die verskillende spane kyk sal jy ‘n moer aan die bopunt sien. Daardie moer moet na bo geskuif word sodat die spaan langer kan word. Plaas 'n 5c muntstuk in die bak en draai die lem. As die lem die muntstuk eweredig met elke draai skuif is die lem reg. As die lem die muntstuk effens raak en soms oorslaan om te skuif in die bak, is die lem nog te hoog. 

Dit is baie belangrik wanneer jy jou menger gebruik en jy die bak uitskraap vir byvoorbeeld ‘n koek, daar geen droë bestanddele mag agter bly nie. 
Dit beteken dat die haak te hoog is. 
Selfs met brood knie is die deeg nie veronderstel om droë kolle onder in die bak te hê nie.


SIEN DIE MOER AAN DIE BO PUNT VAN DIE SILWER STANG?
DIT IS DIE MENEER WAT GEDRAAI MOET WORD!
Ek hoop julle gaan julle mengers sommer baie geniet. My menger is 22 jaar oud en my pa het dit nog vir my op my 21ste verjaardag vir my gekoop...daardie tyd was die probleem nie in die boekie gestipuleer nie, asook nie gekom met die bypassende moersleutel nie. Deesdae is die nuutste Kenwoods almal toegerus met hierdie inligting in die Handleiding asook die spanner wat saam kom.

Lekker bak.

Annelien!







PIKANTE BEET EN ROKETSLAAI


Hierdie slaai is nie net mooi nie, maar uiters gesond. Dit kan met of sonder slaaisous bedien word en net sout en peper oor kry.

RESEP
6 Beet knolle - gekook en geskil
1 Pakkie rocket blare
250 ml Pekans
2 Feta skywe
125 ml Cranberries of pruimedante

METODE
1. Pak eers 'n bed van rocket blare en sny die beet in kwarte en pak verder uit.
So ook word die res van die bestanddele oor gestrooi.
Krummel die feta en sprinkel oor.

2. As jy boontjie spruite byderhand het maak dit die slaai nog heerliker.


BRON: Annelien Pienaar. 2015, www.bosenbergguestfarm.co.za

IDEES MET VYE!

Parma ham, maaskaas, roket gevulde vy!
Vye op Roosmaryn Labneh met heuning en Baugette skywe
Chargrilled vye op Feta, spek en Ment blare
Vye gevul met maaskaas en gebind met gerookte ham
Gerookte salm roomkaas vulsel met karamel sous!


BRON: Foto's: google images.
RESEP BESKRYWING EN INTERPRETASIE VIR VYE: Annelien Pienaar. 2015, vir Bos en Berg gasteplaas. www.bosenbergguestfarm.co.za














LEWERKOEKIES

As kind was hierdie een van die goed wat ek so helder as vandag kan onthou, wat my Ma op sondag aande vir my Pa gemaak het.  

RESEP
500 g Bees of skaaplewer
4 Middelslag aartappels
250 ml Gesnyde groenboontjies
2 Spinasieblare
1 Middelslag tamatie
1 Ui
1 Knoffel toontjie
1 Sny brood
3 Eiers
180 ml Ongesif afgemeet meelblom
15 ml Bakpoeier
10 ml Sout
1 ml Peper
50 ml Sonneblom olie vir vlakvet braai

METODE
1. Trek die vliese van die lewer af en sny die lewer in stukke en laat dit in melk week vir 60 minute tot oornag.

2. Plaas in 'n voedsel verwerker kap die eers die lewer dan aartappels, boontjies, spinasie, tamatie en ui tot baie fyn.
Indien jy 'n vleismeul het is dit puik vir die werk.
Verwerk die brood laaste saam met die mengsel.

3. Voeg die eiers by die gemaalde mengsel en meng goed.
Voeg die meelblom, bakpoeier, sout en peper by en meng weer goed deur.

4. Skep lepelsvol lewermengsel in vlak warm kookolie en braai dit eers aan die een kant oor matige hitte tot gaar en bruin.
Dreineer die lewerkoekies goed op kombuispapier en sit dit warm of koud voor.

5. Hierdie koekies vries goed.

BRON: Hantie Bezuidenhout. verwerk deur Annelien Bezuidenhout Pienaar, 2015
www.bosenbergguestfarm.co.za

Woensdag, 18 November 2015

DIE TICKETS

Kongo RIP
Hallo julle, nee kyk die ark was weer oop op die plaas vandag!
Alles in eendag, wat eintlik in een week veronderstel was om te gebeur. Ouboet se groot toon sukkel met 'n ingroei toon nael, al vir maande en vandag weer geopereer. Na 'n lang warm dag en gewag is ons twee tuis. Met my tuiskoms kry ek my rooikop middelste seun kop onderste bo en ek sien hy is verlep soos 'n oranje papawer. Nee, sy kop is seer, hy is koorsig en ek begin kliere voel. Mmmh dink ek, bosluisbyt koors. Laat die mannetjie van kop tot tone uit trek en nog voordat ek "what have you en if possible" moet ondersoek, kry ek die verdomde orgetiel! Knip die boggertjie se nekkie af en gee die knaap 'n goeie dosis pynmiddel. Maak vir my en sussie 'n heerlike koppie tee en ons gaan sit op die stoep en kyk oor die plaasdam en Magaliesberge uit. So hoor ek pappa bulder van die skaap kraal se kant ek moet dringend kom kyk...

Ek en sussie piekel sommer so kaalvoet af hokke toe. In die een hand het ek reeds my "skaap dokters tassie" met al wat 'n middel en goete om die lam siek en dooies te help. So van ver skree my man al Kongo (stoetram met 'n hengse humeur maar die mooiste bou) het groot moeilikheid. Ek dog toe, nee hy het seker weer met een van die ander ramme deur die draad baklei...maar vir die ene het ek nie woorde gehad nie.

Kongo wou by die ander trop se ooie uitkom en deur die doringdraad probeer kruip. So het sy testikels 'n lelike krap weg en dit is rooi en nog twee keer groter geswel. Met die dat almal besig is bly George by my agter en ek loop gou stoor toe om handskoene te kry want die wond is erg smetterig. Toe ek om die draai kom sien ek hy spuit omlope middel op die rou wond. Die arme ram, sy bene swik van die pyn en hy lê net en ruk. Ek gooi alles neer en hol om George te stop! Ek skree al van ver:  "Wat die hel doen jy?": Goerge antwoord my: "Klein mê sy "testikets" moet skoon kom". Ooi hy dink hy help, maar die Vader weet, ek wil my handlanger soms vermoor! Ag jinne maar ek vloek net sulke lang stringe dat die volk net Jô mêrrem!
Gaan kry wond sproei en antibiotika en spuit die arme ding. Kyk Kongo het ons al gestamp en beseer, selfs al gesorg vir steke in die arm met sy horings, maar seer het die dier erg. Ek staan vir 'n uur soos 'n ma en hou hom dop, sukkel sukkel kom hy op sy bene, maar aai, die agter bene is maar styf en hy gaan lê weer. 

Kyk ek het ou George mooi vertel hoe hy sal voel as ek sy tickets so gaan spuit, die ander werkers het lekker gelag en my man het net sy kop geskud vir my kwaai bekWel, George weet hy bly uit die medisyne kamer weg of ek haal die rekkies uit dat hy sy beurt kan kry!

Annelien se plaaslewe!

PS: Kongo het toe nie die infeksie oorleef nie, maar sy lammers van hierdie seisoen is pragtig en sterk net soos hul vader.

www.bosenbergguestfarm.co.za

RED VELVET WAFEL

Sommige mense eet pannekoek as dit reën, maar nie die Pienaars nie.
Nee ons eet wafels met allerlei strope en mengsels binne in die beslag. 
So het ek op ‘n keer by ‘n koffie winkel in Kanada in ‘n skilderagtige klein dorpie genaamd Fort Langley vir die eerste keer Red Velvet Wafels geëet. 
Vir hierdie boere meisie was dit net ongelooflik heerlik en het dit netso met roomys geëet. 
Mettertyd het ek my eie weergawe van hierdie dekandente wafel gemaak en kan met trots sê, Wafel met ‘n Twist!

RESEP
190 g Koekmeel
35 g Kakao - gesif en klonte uitgevryf
1 t Koeksoda
½  t Sout
250 g Olie - ja jy lees reg in g, die maatkoppies deesdae is verkeerd gemerk
140 g Suiker
1 Ekstra groot eier
1 t Gel kleursel of 3 tl rooi loperige groente kleursel - krimson red werk perfek
1 t Vanielje geursel
1 e Asyn
125 ml Karringmelk of gewone yoghurt

METODE
1. Sif die koekmeel, kakao, koeksoda en sout saam. 
Hou eenkant.

2. Klits die olie en suiker met ‘n elektriese menger saam totdat dit goed gemeng is. 
Voeg nou die eier by en klits weer goed. 
Voeg die geursel en kleusel by en meng weer goed.

3. Meng die asyn en die karringmelk saam. 
Vou nou die meel mengsel om die beurt met die melk mengsel by die eiermengsel in. 
Vou sagkens in met ‘n metaal lepel. 
Laat 5 minute staan terwyl jou wafel pan goed warm word.

4. Spuit nou jou wafel pan met Cook ‘n Spray ‘n hele paar goeie spuite. 
Gooi genoeg deeg in die middel van jou pan en bak vir 4 minute aan beide kante as jy ‘n stoof plaat model gebruik. 
Vir die elktriese soort so 3 minte, maar lig versigtig die deksel op en loer maar net vir die wis en die onwis.

PAK VAN WAFEL LAGIES
Ek het ‘n ronde wafel pan. 
Met dit saam het ek ‘n 23 cm ringkoek pan waarin die wafels perfek pas. 
Ek laat die klaar gebakte wafels eers baie goed afkoel en pak dan soos volg:

1. Eerste laag is wafel en dan sprei ek roomys (wat ek so 10 minute voor die tyd uitgehaal het om sag te word om te smeer) van my keuse oor die binne kant so dik as wat ek wil.

2. Plaas dan weer ‘n wafel bo op en druk versigtig vas.

3. Verwyder die ring en plaas die pakkie op ‘n bakplaat en bedek met kleef plastiek. 
Plaas in vrieskas oor nag om te set. 
Sny die volgende dag in segmente en bedien met vars bessies en stroop.

HOEVEELHEID: 6 - 8 wafels.

BRON: Annelien Pienaar vir www.bosenbergguestfarm.co.za, 2015



Dinsdag, 17 November 2015

BAKPLATE EN TOERUSTING UITEENSETTING EN GEBRUIKE

Chiffon of Angelfood cake se tuitpan met voetjies
DIE MOET'S EN MOENIE'S VAN LOSBOOM PANNE 
1. Wanneer mens met enige pan van die reeks van losboom panne werk dan moet jy onthou goed kan uitloop. 
Maak dus seker dat jou beslag styf genoeg is soos vir cupcakes bak en korslose sout terte en quiches.

2. Voorverhit jou oond met ‘n bakplaat reeds op die korrekte hoogte van die oond vir die bakproses.

Wanneer jy die gevaar loop van iets wat dalk mag uitsypel gaan die geleiding van die warm bakplaat dadelik deur na die basis van die losboom pan en die onderste gedeeltes begin dan dadelik te stol. 

WATTER PAN PAS WAAR? 

1. BAKPLATE
Jy kan bakplate met of sonder kante koop. 
Die sonder kante is geskik vir koekies, brood en pasteie bak. 
Die met kante is vir blokkies lekkers, rolkoeke ens om in te bak of te stol.

2. VIERKANTIGE, REGHOEKIGE EN RONDE DIEP PANNE 
Die doel van hierdie dieper panne is om koekies soos yskaskoekies, blokkies en groot koeke vir laag koeke te bak. 
Sommiges kom met los basisse. 
Ek het onlangs met Kitchenaid se plate en panne gebak en was verstom dat hulle goed met dubbel bome uitkom. 
Dit was in die ou dae laas so. 
Die bodem bestaan uit twee lae, met ‘n lugspasie tussen in om die aanbrand van vrugte koeke te voorkom byvoorbeeld. 
So het ek ook die bakplate gesien wat so aangepas is. 

3. MUFFIN OF KOLWYNTJIE PANNE 

Kom in gaatjies van 6, 12, 24, afhangend van die geleentheid waarvoor jy bak. 
Dit kan rond, langwerpig op vierkantig wees. 
Sommiges het ook basisse wat los is.

4. LANGWERPIGE PANNE, BROODPANNE 
Geskik vir vinnige broodjies, suurdeeg broodjies, koeke, roomys te vorm, aspiek, bron, gelatien ens te stol. 
Voorwaar iets wat ‘n moet is in elke kombuis.

5. BUNDT PANNE

Hierdie panne is vir die bak van spesialiteits koeke soos wortelkoek en gestolde nageregte en slaaie, vele gebruike. 
Die pan is rond met ‘n tuit na bo soos ‘n roomys horinkie.

6. TERT PANNE MET LOS BODEMS (FLAN TIN)

Hierdie is die outjies wat lekker moeilikheid kan maak as jy loperige roomvulsels vir quiches wil bak. Dus doen maar die bakplaat se vooraf verwarming om die probleem die nek in te slaan. 
Dit het geriffelde randte en sodra die produk klaar gebak is kan dit ontvorm word en kaal bedien word sonder enige tert bak of bord.

7. RINGKOEKPANNE (SPRINGFORM TINS)
Hierdie tipe panne is geskik vir koeke wat perfek gebak of gestol moet word. 
Goed soos vrugtekoek, gebakte en gestolde kaaskoeke, meellose koeke. 
Sodra die koek deur die proses is en dit ontvorm moet word, word die ring langs die kant los gemaak om skiet te gee. 
Die koek bly perfek en behou sy vorm.

8. BUIS PANNE (TUBE)

Jy kan net ‘n Angelfood cake en ‘n Chiffon koek in hierdie pan bak! 
Die pan word glad nie gesmeer en met meel uit gevoer soos met die normale panne se voorbereiding nie. 
Nee, die koek moet soort van vassit as dit omgekeer word en onderste bo hang om met gravitasie te stol en koud te word om dan sy tekstuur te behou. 
Dit is hoe dit sy veerligte tekstuur kry. 
Die pan het voetjies waarop dit rus as dit omgekeer word sodat die koek daaraan kan “hang”. 
Die buis in die middel help ook dat die koek mengsel baie vinnig stol voordat die eierwitte sy lug verloor. 
Hoe, deur die hitte baie vinnig daardeur te gelei.

9. SOUFFLE BAKKIES

Hierdie bakkies is gewoonlik van glas en die gereg word daarin bedien. 
Hoekom? 
Omdat die gereg meeste van die tyd as dit ‘n warm gereg is net uit eier bestaan of as dit koud is uit eier, room en of gelatien. 
Dink aan goed soos chocolate mousse, warm kaas souffle, crème caramel of crème brûlée.

10. MADELEINE VORMPIES

Seldsaam gebruik, maar ja, ek het in my ma se arsenaal van panne ook op hulle afgekom. 
Ek het nog net een maal in my lewe Madeleines gebak en dit was heerlik. 
Dit is ‘n koekerige beslag wat dan soos ‘n semi koekie uitkom, krakerig en effens bros.


Bo bundt pan, broodpanne, muffin panne bakplate onder en kante


Kyk die mooi bundt pan in die middel en dan heel in die middel agter die Angelfood of Chiffon koek pan

OM TE SPUIT OF NIE TE SPUIT
Deesdae neem die Chinese die mark oor met al hul gemors goete wat kwansuis kleef vry is. 
Wel, ek het my les op die harde manier geleer, hulle jok soos ‘n bok! 
Spuit dames en here al sê dit ook wat. 
Koekbak is duur en jy wil liefs nie die kanse neem nie. 
Onlangs het ek met een van my Macaroon klasse die duurste prys betaal. 
Die een smous het my dit in die kop gepraat om hierdie nuwe bakpapier vir macaroons te koop. 
Nee, jy het nie nodig om te spuit nie. 
So doen ek die klas en ons spuit nie!!! 
Ag my liewe genade en wat gebeur, die goed sit soos dinges in ‘n baba kombers. 
Dus SPUIT of smeer die flippen goed net! 
Moenie glo wat op die pakkie staan nie.

Ek glo nie in silikoon of die plastiek bak goete nie. 

Dit stel slegte dinge soos estrogeen onder andere af wat borskanker en ander soort gelyke gesondheidsprobleme aan help. 
As jy wyd lees sal jy verstaan wat ek bedoel. 

Dus in kort leer jou panne ken!


BRON: Annelien Pienaar. www.bosenbergguestfarm.co.za, vir klasse boerekostwist@gmail.com