Saterdag, 31 Oktober 2015

GEMMERSTUKKE IN STROOP OF VERSIERSUIKER

BEGINSEL
Die gemmerstukke word eers baie sag gekook deur middel van ‘n stoompot, of as jy nie so iets het nie, ‘n slow cooker. 
Hierdie proses neem nogal tyd. 
Met die stoompot moet die proses tot 4 keer gedoen word of totdat ‘n vuurhoutjie maklik deur die gemmerstuk steek. 
Met die slow cooker oor 2 dae gedoen.

Daarna word die gemmer gekook en dan gelos in stroop vir 4 - 6 keer een keer per dag sodat die stukke letterlik die stroop kan indrink en ook helder en deurskynend word. 

Dit is gewens om liefs jong wortels te gebruik dan is die vesels nog nie so hard nie. 
Dus as jy geduld het is hierdie ‘n treffer. 
Spesialiteits winkels sal vuis slaan vir hierdie lekkerny.

Verder kan julle met dieselfde beginsel versuikerde gemmerstukke maak. 

Dis net die laaste dag wat dinge anders verloop, ek sal dit in die wenke aan die einde van die metode aanheg.
Dit is ook belangrik om ingedagte te hou hoe kleiner die kooksel wat jy maak hoe gouer verdamp die vog. 
Dus beveel ek aan dat julle nie minder as 1 kg op ‘n slag kook anders maak julle gemmer toffie.
Die kastrol wat julle gebruik moet liefs nie‘n te groot bodem hê nie, verkieslik die stoompot se kastrol.

RESEP
45 ml Koeksoda
5 liter Water - vir koeksoda - water word later weg gegooi
1 kg Gemmer stukke
1 kg Suiker
1.5 liter Water - stroop maak
2 ml Kremetart

METODE
1. Skil, prik en sny gemmer in stukke of skywe of laat heel bly.
Die rede vir die prik is om die vesels sag te maak sodat dit maksimaal die stroop kan absorber.
Baie belangrik dat dit BAIE goed gedoen word en dat die steke deur die stukke gaan.

2. Maak die gemmer bros deur dit oornag in die koeksoda water te laat lê.
Spoel die volgende dag goed af en laat in skoon water rus vir 2 ure om uit te vars.

3. Kook die gemmer sag in stoompot vir 4 - 6 keer of totdat jy ‘n vuurhoutjie se agterkant met gemak deur die vleis kan druk.
Moenie die water waarin die gemmer gekook word weg gooi nie, al die geur sit daar en word aan gevul met gewone water tot die regte maat verkry word vir die kookproses.
Syg deur kaasdoek om stukkies te verwyder.

4. Voeg die water, suiker en kremetart by mekaar en laat stadig oplos by lae hitte.
Stroop mag nie kook voordat al die suiker nie opgelos het nie.
Onthou om die kante van die kastrol met ‘n kwassie af te was om kristal vorming te voorkom.
Laat die stroop 5 minute kook sodra die suiker opgelos is.

5. Sit die gemmer bietjies vir bietjies by die kokende stroop.
Die stroop moet die heeltyd bly kook terwyl jy die gemmer byvoeg.
Kook die vrugte vir 30 minute by baie vinnig en laat 24 uur in stroop staan.

6. Verwyder gemmerstukke en verhit stroop tot kookpunt.
Voeg weer die stukke bietjies vir bietjies by terwyl die stroop bly kook.
Kook vir 30 minute matig vinnig.
Laat weer 24 uur staan en herhaal die proses tot 6 keer of totdat die gemmerwortels deurskynend raak.

7. As ek nie versuikerde gemmerstukke gaan maak nie, dan bottel ek die stukke in die oorblywende stroop, verkieslik warm.

HOE OM VERSUIKERDE GEMMER TE MAAK 
1. Nadat jy die bogenoemde stappe gevolg het, laat die gemmer op ‘n draadrak droog word totdat die oppervlak net effens klewerig voel.
Die oppervlak moet net klam genoeg wees dat die suiker kan vassit en nie so nat dat dit sal oplos nie.

2. Rol die gemmer stukke in suiker sodat dit eweredig met die suiker bedek is.
Ek laat dit ‘n dag staan om verder te droog en verpak dit dan in glas botteltjies

BRON: Hierdie resep is ‘n aangepaste weergawe van Naceema Patel se oorspronklike resep.
‘n Baie talentvolle en beskeie Moslem vrou in my gemeenskap met ‘n onuitputlike bron van kennis en ervaring.

2015. www.bosenbergguestfarm.co.za

Donderdag, 29 Oktober 2015

ROOSMARYN EN SUURLEMOEN SKAPIE

In die dorpie waar ek groot geword het was daar ‘n Oom by wie ons baie gaan braai het. Hy was volgens my die beste skaap braaier ooit! Hy het die tjoppies en ribbe met vars roosmaryn wat fyn opgekap is ingevryf en dan oor die kole gebraai. As die vleisie halfpad gaar is het hy dit in ‘n swaarboom pot gesit en dan met suurlemoensap bedruip en verder gaar gemaak. Vandag sit ek die tradisie voort. Oom Smit is nie meer met ons nie, maar ek dink elke keer aan hom as ek ‘n tjoppie eet!

RESEP
12 Skaap tjoppies of lamsrib
4 Roosmaryn takkies - fyn opgekap
2 e Knoffel - fyn
Olyfolie
4 Suurlemoene
Sout en peper na smaak

METODE
1. Stroop die roosmaryn takkies af en kap die groen blaartjies redelik fyn op. Meng met knoffel en genoeg olie om dit smeerbaar oor die lams tjoppie of ribbe te maak. Smeer die vleis goed in met die mengsel en voeg nog olie by as dit nodig is. Laat staan oornag of vir 2 ure.

2. Braai die vleis op ‘n oop vuur of onder die grill van die oond. Sodra dit halfpad gaar is sprinkel met die suurlemoensap en vryf met die suurlemoen se oop kant oor die tjoppie. Los sommer die suurlemoen so op die vleis vir ekstra geur terwyl jy braai.

3. Verwyder die vleis van die vuur en sprinkel dan met sout en peper na smaak. Ek hou daarvan om die sout laaste oor te sit omdat sout altyd geneig is om die sap uit die vlies te trek en dit dan droog te maak.

BRON: Annelien Pienaar. 2015, www.bosenbergguestfarm.co.za

Woensdag, 28 Oktober 2015

KHULFI - INDIESE SPESERY EN NEUT ROOMYS

Ek het hierdie ongelooflike lekker roomys geleer eet by ‘n Indiese vriendin van my.  Sy het die basis resep vir my gegee en ek het bietjie kinkels bygesit. Dit is soet en romerig en gepak met neute. Ek gebruik enige neut wat ek in die hande kan kry. Dus moenie dat dit jou stop om dit te maak nie, selfs goeie kwaliteit grondbone werk ook lekker.

Daar is verskei maniere wat roomys gemaak kan word en die grootste kopseer is om die mengsel gevries te kry. Ek maak my eie roomysmaker soos volg: Basies maak jy 'n soutwater oplossing wat in 'n bak geplaas word en nog 'n leë bak van dieselfde grootte word dan met 'n gewig bo-op in die onderste bak geplaas. Hierdie is nou waar ons die roomys maker mimiek. Plaas die bak versigtig in die vrieskas en vries tot kliphard. Sout oplossing: 1 liter water met 200 g sout. Onthou nie almal se bakke is ewe groot nie. So jy mag dalk vir die onderste bak meer soutwater nodig kry. Plaas dan jou klaar roomysmengsel in die koue bak en bly roer met ballon klitser totdat die gevries het of jy kan met 'n handmenger ook klits. Dit is belangrik om te klits om sodoende die yskristalletjies fyner op te breek. 

RESEP
110 g Pekans of amandels of macadamia neute - ongesout
50 g Pistasie neute (pistacio) of grondbone - souterige neute
410 g Blik Ideal melk
60 ml Mielieblom (maizena)
Kaneel stokkie
1 Blikkie Kondensmelk
250 ml Room
10 ml Vanielje geursel of enige likeur van keuse

METODE
1. Plaas die neute op ‘n bakplaat en rooster vir 5 minute in die oond op 180 ˚ C.
Haal uit en laat afkoel.

2. Maak die mielieblom aan met die helfte van die Ideal melk.
Verhit die ander helfte van die Ideal melk tesame met die kaneel stokkie.
Voeg nou die aangemaakte mielieblom by die kokende melk en roer met whisk deur om aanbrand en klonte te voorkom.
Kook oor matige hitte vir 3 - 4 minute totdat dit verdik het.

3. Verwyder van hitte en roer die kondensmelk by en meng deeglik. Gooi nou die res van die bestanddele by en meng weer deeglik.

4. Skep uit in ‘n bak geskik vir vries.
Ek neem altyd ‘n metaal bak wat koue goed gelei en dan vries die mengsel ook vinniger.
Jy moet elke 30 minute die bak uithaal en vir 3 minute lank klits om die yskristelletjies fyner op te breek.
Hou so aan totdat dit soos slush puppy lyk.
Los dan om heeltemal te stol.

BRON: Annelien Pienaar. 2015, www.bosenbergguestfarm.co.za

Dinsdag, 27 Oktober 2015

BKT FREEZO KOFFIE!

Dit was weer bloedig warm vandag en niks kan my kokende siel so laaf soos ‘n Freezo. My vriendin, Dalene Berg, het my eendag ‘n happie van haar Freezo by ‘n bekende koffie winkel gegee en ek was verslaaf. So het ek bly speel met ‘n resep totdat ek by hierdie een uitgekom het. Voorwaar ‘n fees vir die smaak kliere!

RESEP
25 ml Douwe Eggberts of enige goeie kwaliteit koffie korrels
150 ml Kondensmelk
100 ml Water
100 ml Ideal melk
30 Ysblokkies
2 ml Vanielje of karamel geursel
25 ml Amarula of Cape Velvet - opsioneel

METODE
1. Plaas die ys in ‘n vadoek en kap dit met ‘n mallet of rolstok in kleiner stukkies.
Ek doen dit om my voedsel verwerker se lem skerp te hou.

2. Plaas dan die ys saam met al die bestanddele in die voedsel verwerker en blitz totdat dit super fyn en egalig is.

3. Skink in twee verkoelde glase, so sal die drankie vir langer gevries bly.

HOEVEELHEID: 750 ml.

BRON: Annelien Pienaar. 2015, www.bosenbergguestfarm.co.za

Maandag, 26 Oktober 2015

GEDIERTETJIES EN ORGETIELE!


Die Filistyne se dermpies is sommer vroegaand gestop en nou is daar tyd vir kuier en klets op die blad. 

Tydens saterdag se lekkergoed klas het ‘n voëltjie uit een van die hoë bome geval. 
So stap ek met die liederlike dingetjie in my bakhand af om die kinders werk te gee! Siestog, die ogies is toe en die vere min. Al wat jy sien is die bekkie wat na bowe gaan en soos ‘n diamantjie oopmaak en vra vir ‘n kossie. Van die klasmaters het baie voorstelle grappig gemaak wat om met die dingetjie te doen maar katkos was nie op die lys nie! Dit is ‘n gesoek en skrop later die aand om wurmpies te soek vir die dingetjie. Die groot tiener seuns het geen erg aan die bondeltjie wat so piep en sussie is vreeslik ingenome met die speelding. Sy weet sy mag nie vat nie, maar druk wel die kombersie snoesig om die dingetjie toe binne in die skoendoos.

Ons gaan slaap met die piepende lyfie in ons kamer en sussie op ‘n matrassie omdat dit naweek is. Sondag oggend 05h00 tjirp die gedoentetjie my wakker, ek kyk dit met een oog aan en dink, ek wil slaap, sjusssh! 
Nee, hy is honger en hou nie op nie, ek pomp pappie in die ribbes maar nee, hy is moeg en draai om. Hy gaan nie op ‘n sondag oggend loop wurms soek nie. Ek staan traag op en gluur die dingetjie aan. Val oor sussie wat langs my bed lê en vloek ‘n paar woorde. Strompel na die alarm en sit af. Soek my skoene en stap met mening kombuis toe met die gedroggie in sy boksie soos ‘n rugby bal onder die arm. Waar gaan ek jou nou sit waar jy kan stil bly. Sit die radio aan en tjoep stil. Ek loer na binne en daar blom die bekkie! Ok, jy wen ek gaan jou kos soek.

Vat die stoor se sleutels en stap met my pejossies (nagklere) na die stoor om ‘n spitvurk en bakkie te kry. 
Halfpad tussen die huis en die stoor steek ek vas en dink, wat maak ek as daar nou ‘n gas om die hoek kom en my in my pejossies vang? Ek wik en weeg, wie sal nou wakker wees? Stap met mening na die stoor, sluit oop en kry my wurm vang goeters. Ek stap na ‘n bedding waar ek weet baie wurms is en spit dat die blare spat, nee, die klein boggertjies kruip vir my weg, NIKS! As mens orgetiele soek dan is dit nie daar nie! Ek raak nou ergerlik en swets weer. Ek hoor vir sussie by die deur, "Mammie wat maak jy? " Ek roep haar om te kom help. So soek ons saam wurms, sussie raak ook moedeloos. Min besef ek waar staan die tyd. Ek sit nog so op my hurke en ons een werker kom om die skaap kraal se sleutels te kry. Ek bly maar sit en stuur vir sussie om die sleutels te gaan haal. Erg verleë kyk ek nie op en die ouman vra wat maak ek, ek verduidelik die storie. Nee, reken George hy sal by die rivier onder die brug vir my gaan wurms kry. Ek dink by myself “Jy is so aangeklam dat dit by jou agter ent gaan uit waai”. 

Sussie kom terug met die sleutels en die bakkie met wurms. 
Ek sê vir haar ons moet die wurmpies nou vat vir die voëltjie. Toe ek so afkyk in die bakkie raak ek sommer lam, die goedjies het ontsnap! Nee, ek was sommer moedeloos. Staan op en besluit dit is te vroeg vir wyn sal maar op die stoep sit en tee drink en ‘n nuwe strategie beplan. Ek sal maar iewers moet gaan wurms koop. Ons trek aan en maak reg vir kerk met sussie en die gediertetjie wat ewe veel kerm. Ek hou my doof, ek is nukkerig. Die agter deur klokkie lui en ek stap om soos ouder gewoonte die sleutel te gaan haal. Raai wat kry ek, ’n hele Stork bakkie vol vet glibberige wurms. Ou George stink so na drank dat ek hom sou gedruk het as hy skoon was. Gee hom ‘n R20 en sy smile sit reg rondom sy kop. Dus leer ek my les, Mamma voëltjies weet wat hulle doen. Ek is ‘n mense Mamma en maak kos in groot maat, nie vir pikkewouters nie. 

Annelien Pienaar se manewales!


GOLDEN OLDIES - TUISGEMAAKTE LEKKERGOED SOOS OUMA DIT GEMAAK HET!

Spoon Fudge en Karamel Toffie
Wat kan mens sê as jy goud ontdek? Wel, dit smaak my 'n engel het op my tong gepiepie! 
Johan Lombard is die eienaar en baas brein agter Golden Oldies en maak ongelooflike tuisgemaakte lekkers. 
Hy het my bederf met 'n pakkie van sy handgemaakte lekekrs en die verpakking is uiters professioneel en netjies afgewerk. 

Toe ek die eerste hap gee van die Karamel toffie met sy sjokolade smaak, kon ek ongelukkig nie ophou en het al drie die vingers binne minute verorber. 
Die Spoon fudge is fluweel sag en die twee lagies binne in die botteljie was 'n smaak reis van sy eie. Regtig waar 'n produk waarop Johan baie trots kan wees. 

Indien jy van hierdie lekkernye en nog vele meer van Johan Lombard wil bestel, wel die nommer is op die etiket!
Die Baas brein agter Golden Oldies!

Sondag, 25 Oktober 2015

VINNIGE KAASKOEK GENOT

Hierdie resep kan met enige vrugte van jou keuse gemaak word en dan met die bypassende kleur jellie. Dus kan jy van pers (moerbeie), groen (kiwi), blou (bessies, druiwe), pienk (kersies, aarbeie), geel (sitrus, perskes, mango, papaja) basies al die kleure van die reënboog kan ‘n kaaskoek pakkie maak! Jy sal die gewildste gasvrou ooit wees met hierdie treffer nagereg of tee tyd verassing.

RESEP
15 ml Gelatien korrels gespons oor 50 ml kraan water
1 x 410 g Blik Kondensmelk
125 ml Vars suurlemoensap
250 g Roomkaas - NIE maaskaas
15 ml Suurlemoenskil
50 ml Melkpoeier aangemaak met 100 ml kook water
250 ml Room
2 pakkies Nutti krust koekies - fyn gestamp

METODE
1. Plaas 50 ml water in ‘n glasbakkie en sprinkel die gelatien oor die water.
Laat dit staan totdat dit soos rubber lyk.

2. Meng die kondensmelk, suurlemoensap en suurlemoenskil saam en klits met elketriese menger goed deur.

3. Voeg nou die roomkaas en aangemaakte melkpoeier by die kondensmelk mengsel en klits totdat glad en egalig.

4. Smelt die gelatien in die mikrogolf oond versigtig en hou dit dop.
Dit sal soos stroop lyk as dit gereed is en moenie kook nie.

5. Nou gaan jy ‘n snaakse ding doen.
Jy gaan terwyl jy die room styf klop die gelatien in ‘n dunstraaltjie by die room in klits.
Dit gaan die room sy volume in die einde laat behou en ook baie sponsagtig maak.
Die kaaskoek gaan veerlig wees.
Dus as jy ooit room wil stabiliseer vir koeke wat moet vervoer word en jy is bang dit smelt dalk, hier is jou noodhulp!

6. Vou nou die styf geklopte room by die mengsel in en plaas eenkant om effens te verdik.
As dit ‘n baie warm dag is plaas dit in ‘n dubbel koker gevul met ys, dit moet nog nie set nie maar die room moet ook nie pap gaan van die hitte nie, anders verloor die mengsel sy sponsagtige tekstuur.

7. Vat mooi deursigtige bottels met wye nekke of pragtige glasbakkies en skep van die koekie krummels onder in.
Skep dan van die kaaskoek mengsel in.
Jy kan verskeie lagies soos jy goed dink pak..

8. Rond af met jellie aarbeie

AARBEIE EN JELLIE BOLAAG 
2 Pakkies Aarbei jellie
250 g Vars aarbeie - in die helfte gesny

METODE
1. Maak die aarbei jellie aan soos op die pakkie aangedui.
Gewoonlik is die pakkies in 80 g mates en word met 125 ml warm en 125 ml koue water gemaak, trek asb 25 ml per warm en 25 ml per koue water af.
Die suur van die aarbei bolaag mag dalk verhoed dat die jellie stol.
Dus moet ons die gelatien help in die jellie mengsel om sy werk te kan doen teen die suur wat teenwoordig is.
Laat die jellie so dik word soos stroop in die yskas.
Pas dit asb mooi op.
As dit dalk oor die stroop fase gegaan het, plaas in warm water om weer loperig te word.

2. Voeg nou die aarbeie by die stroperige jellie mengsel en skep bo op die kaaskoek mengsel en verkoel totdat dit benodig word.
Versier met vars kruisement takkies, kersiers, aarbeie ens.

HOEVEELHEID: 4 porsies.


BRON: Annelien Pienaar. boerekostwist@gmail.com, klasse


FOTO: Geleen op Pinterest.

HOENDER EN SAMPIOEN SOUT TERT

Soms gebeur dit dat jy inderhaas gou ‘n ligte ete vir kuiergaste moet voorsit. Hierdie resep het my meer as eenkeer uit gehelp. Die korsie is ook baie maklik. Word in die pan gedruk en met die vulsel gebak, geen blindbak of tydrowende proses nie.Nou goed ek weet jy gaan dalk dink dit is nie so maklik om witsous te maak nie, maar raai wat? Dit is!  Daar is twee maniere hoe jy witsous kan maak. Die eerste een is die Witsous Bêre mengsel wat op die blog is. Dit het reeds melkpoeier, margarien en koekmeel in. Jy gooi net water by en in ‘n kits het jy ‘n klont vrye witsous. Die tweede manier gaan ek nou vir julle met die resep verduidelik. Die geheim? Ballon klitser / whisk en jou mikrogolf oond en voila!

RESEP
VULSEL
500 g Hoender vleis - klaar gaar (oorskiet werk wonderlik)
250 ml Room
250 ml Witsous - effens afgekoel (sien resep)
4 Eiers
250 g Knopies sampioene - op gesnipper
1 t Knoffel
2 e Dill
Sout en peper na smaak

METODE
1. Voeg al die bestanddele saam en meng baie goed deur.

2. Berei die kors voor deur 1 koppie koekmeel met 1 koppie gerasperde kaas en 1 koppie gerasperde koue bakmargarien in die voedsel verwerker te blits totdat dit soos broodkrummels lyk.

3. Druk die krummels in ‘n gesmeerde terbak van jou keuse vas of kleiner porsies van jou keuse.

4. Gooi die vulsel in die kors en bak by 180 ˚ C vir 30 minute vir groot terte en 15 - 20 minute vir dunner en kleiner porsies.

WITSOUS
250 ml Melk
30 ml Koekmeel
30 ml Botter
250 ml Kaas - gerasper
2 ml Neut muskaat
Sout en peper na smaak

METODE
1. Plaas die botter in ‘n glasbak en verhit in die mikorgolf vir 30 sekondes totdat die botter gesmelt is.

2. Neem nou ‘n whisk en klop die meel goed by die botter.
Draai weer vir 30 sekondes en stop.

3. Voeg nou die melk by en klits goed deur met whisk totdat al die meel goed versprei is in die melk. Mikrogolf vir 1 minuut, haal die bak uit en klits weer deeglik deur met die whisk.
Doen hierdie proses totdat die mengsel goed verdik het.
Sal ongeveer 5 minute neem.
Nooit weer sal jy witsous hê wat aanbrand nie!
Gooi die kaas by en klits goed deur.
Voeg sout, peper en neutmuskaat na smaak by.

HOEVEELHEID: 8 porsies.

BRON: Annelien Pienaar. www.boerekostwist@gmail.com, klasse



Donderdag, 22 Oktober 2015

SITROENGRAS (LEMON GRASS)

My een swaer het my altyd die Hippie chef genoem omdat ek met bossies kos gemaak het. 
Vandag lag ons net lekker daaroor maar ja, ek is bossies oor kruie en speserye. Vir my is beide nie net die botteltjie op die winkel se rak nie, dit is soos ‘n persoonlikheid. Sodra jy die botteltjie oopmaak kielie dit alle sintuie en jy kan nie ophou ruik aan alles nie, ‘n verhouding en ‘n ontdekkingsreis begin.

Wat kruie en speserye vir my nog meer fasinerend maak, is die feit dat dit nie net vir kosmaak gebruik word nie. 
Dit word vir medikasie en ook vel versorging gebruik. Dit is ‘n pragtige struik om in jou tuin te hê en dit groei ongelooflik maklik. Dalk het jy al verby ‘n bos gestap en nie besef watter juweel jy gemis het nie. 

Ek is ‘n groot aanhanger van Margaret Roberts. 
Haar kennis is ongelooflik wyd en as jy haar ontmoet, kan jy nie glo dat op haar ouderdom, sy so helder en belese is nie. Haar hand staan vir niks verkeerd nie. Dus as jy ooit die geleentheid kry om haar te gaan besoek, doen so. Die eerste keer wat ek die Margaret Roberts tuin gaan besoek het, was toe ek saam met ‘n klompie homeopate en aptekers en ander baie slim mense, ‘n jaarlikse gesprek wat sy hou in September oor Tissue sout bygewoon het. Ek kon mooi onthou hoe ek die twee spoor paadjie op ry na die agterkant van die Magaliesberg en dan sien jy die waarskuwings bordjies wat lees: “We are only open on wednesdays” ... dan later “Are you sure it is wednesday?”... die volgende bordjie lees, “Please turn around if it is not wednesday”. Sy is reguit en op die man af. Vat nie nonsens van die manne met die sterk chemiese agtergrond wat wou slim wees nie, die tannie het kringe om hulle gehardloop.

Nou goed ek wil eintlik gesêls oor Sitroen gras. 
Die sitroen gras word gereken as ‘n “afkoel” krui wat goed is vir bloed sirkulasie. Dit is ook antibakteriël en teen swaminfeksies. Wanneer dit as ‘n tee gedrink word is dit kalmerend op die gemoed. Dit word gereken dat dit sellulere hernuwend is en ook goed vir ‘n intestinale infeksies. 

Hierdie geurige gras kan soos preie saam met roerbraai groente gemaak word. 
Verder is dit ook heerlik in bredies fyn op gekap. Wat dit so “versatile” maak is die feit dat dit in soet en sout geregte gebruik kan word. Voeg dit eers by jou kookwater vir soet groente soos wortels en patat’s en kook verder. Kneus net die stingel en gooi heel in. In Aartappel en prei sop vervang die prei!

Vir koeke en terte kan die stingels in die melk “infuse” word vir goed soos melktert, creme brulee, vla, roomys, tuisgemaakte yoghurt ens.

Onthou die suurlemoen ystee wat ek 'n rukkie gelede gepost het? 
Wel, as jy eers hierdie lemoen gras gebruik het in jou ystee sal jy nie weer daar sonder kan nie. Jy kook die heel stingels gras saam met al jou bestanddele en stoor die stroop met die gekneuse stingel vir 2 dae en verwyder dit dan.
Die struik
TUISGEMAAKTE HANDEROOM
2 k Aqueous room
2 k Sitroengras - baie fyn gekap
5 e Vitamien E olie
5 ml Bergemot essence van Lennons

METODE
1. Gebruik ‘n dubbel koker en verhit die room en sitroengras saam vir 30 minute sodat die vlugtige olies in die room vasgevang kan word.

2. Gooi die mengsel deur ‘n sif om die blare te verwyder.Ek verkies om dit deur ‘n moeselien doek te syg en dan die ekstra room uit te druk.

3. Sodra die room afgekoel is, roer die res van die bestanddele by en roer deeglik deur met ‘n ballon klitser.Seel in ‘n skoon glas botteltjie.

4. Dit kan gebruik word om muskiete weg te hou en gebarste hande en voete te behandel.

LEMOEN TEE
¼ kop Sitroengras stingels - opgekap
1 k Kook water

METODE
1. Gooi die kook water oor die gras en laat dit afkoel.

2. Dreineer en geur met heuning.

3. Drink koud of warm.

BRON: Margaret Roberts se: My 100 Favourite Herbs, ISBN: 978-1-43170-244-2

PEKANS

Bos en Berg se Pekan Boord, Skeerpoort, 2011
So praat ons vandag oor Pekan neut tert en ek het al die bestanddele en bak toe maar vir die nuwe gaste in die gastehuis ‘n lekker “welkom” happie.
Johan van Deventer roer toe ‘n teer snaar oor die herinneringe van Pekans.

Ons het op die plaas kom woon en my skoonpa het toe so paar boompies geplant vir die “tuin”.
Min het oupa Peet geweet dat dit ons passie sou word. 
Na sy dood het my man die grond begin bewerk en ons het toe die hele 40 hektaar onder pekans gesit.
Ek kan nog so goed onthou hoe ons begin het met die grond analise en water monsters.
Toe moes ek die kontrepsie ding (Theodo light / Trichonometer) in Krugersdorp gaan huur om die boord se uitleg presies in ‘n diamant vorm uit te werk. 
Met ander woorde of jy nou kruis en dwars, op en af kyk die rye is in perfekte simmetrie. 
So kom ek met die gedoente tuis en met die bietjie kennis wat die man aan my oorgedra het stel ek die raamwerk op en stel die ogie in en daar het die reis begin.
Met ons eerste aanplanting het ons rye en rye grond hopies gehad, pragtige ryk rooigrond. Ek onthou hoe ons jongste seun en sy niggie in een van die gate weg geraak het! 
Daardie dag was die Vader so goed vir ons want die een werker het hulle dop gehou en toe ek paniekerig begin hol van gat na gat het hy gou vir my gesê: “Klein Nooi, hulle is by daai kant”. 
Hulle kon versmoor het maar daar sit die twee stoute goed en speel met klonte en stokkies plaas-plaas. 
Nee, kyk ek het elke gryshaar op my kop voor gewerk!
Ons het self met twee spanne, my man een en ek die ander, al 2 000 bome geplant.
Dit is in die hartjie van die winter wat die bome geplant moet word omdat dit nog dormant is. 
Die besproeingstesel was van die buurman se moederlyn gedoen want vir die eerste paar jaar kon ons net met lei vore natmaak. 
Die water pype was gevries in die oggende en het die plantery erg opgehou. 
Onthou elke gat is 1.5 mx1.5 m en 1.85 m diep vir die lang wortelstelsel. 
Daardie grote gate moet dan toe gegooi word met die hand sodat die syhaarworteltjies nie kan seer kry nie. 
Terwyl jy plant moet die water die heeltyd loop om te help dat die worteltjies nat bly, dit is stof, water en modder. 
Jou neus brand, jou vel is rooibruin en jou rug breek. 
Maar plant daardie jaar het ons 750 gedoen.

Ek dink ander mense bou nuwe huise of bou aan om hul huwelike te toets, ons plant ‘n boord!
Vandag staan ek op my dam se wal en die bome is al 10 jaar oud, die 2de fase 7 jaar oud en nou is die “Insert coin” dae besig om te draai en die natuur beloon ons vir ons harde werk. 
As ek nou terug dink kan ek nie glo ons het profesionele beroepe beoefen nie, vandag leef ons van ons plaas en het ‘n rustiger en eenvoudiger lewe sonder “glitz en glamour”. 
Ons leef waarlik!
Vandag het my man ‘n deeltydse konsultasie besigheid en bedryf ons Boeredae waar beide die plaaswerker en boer opleiding kry om hul Pekan boorde te bestuur.
Ons vat die boere se hande en ek kan met trots sê ons Pekan boere kan wragtig hande vat en saamstaan. 
Ons skud mekaar se bome tydens oestyd, ons leen gifspuite en werkers uit om te snoei.

Hierdie bome het my lewe en my passie geword.
Elke boompie wat na die winter elke keer sy knoppies groen laat begin uitkom, maak my elke keer opgewonde soos ‘n kind. 
In November is dit die bestuiwings tyd en elke middag om 17h00 as jy met ‘n stok op ‘n tak tik en in die son opkyk, sien jy Tinkerbell se fairy dust (stuifmeel) soos goue liggies trek, dit is mos die lewe! 
Ja, ons het baie foute gemaak en leer nou ander opkomende boere wat gedoen moet word.
Tans is ek besig met ‘n studiegids juis vir die bedryf.
Dit vat lank om te skryf want dit is nog steeds ‘n wetenskap, ons het 9 Pekan streke en klimatologies groot verskille en sekere varieteite werk in natter dele beter as in droëer dele! 
Maar een van die dae het die boere en werkers ‘n praktiese gids tot Pekan produksie en bestuur vir Suid Afrikaanse omstandighede.
Hoop elkeen kan eendag daardie plekkie binne hul harte vind waar hulle gelukkig en tevrede kan wees, dan kom die res van nature.

Annelien Pienaar.
www.bosenbergguestfarm.co.za

Woensdag, 21 Oktober 2015

SOET GROENTE SPESERYE


Hettie Botha was so gaaf om haar pampoen speserye mengsel se reseppie te deel. Terwyl ek so sit en tik besef ek soos die lysie opdoem dat dit mos vir baie meer resepte gebruik kan word. Hettie se opmerking oor waar die reseppie vandaan kom.“ Ek het dit handgeskrewe gekry in ‘n ou resepteboek”. Ek dink dit is kosbaar!

Die speserye word gebuik om oor soet groente te gooi soos, patats, pampoen en ek dink wortels sal ook heerlik wees. Beetslaai, blatjang ens. Dan kan dit gebruik word vir gemmerkoekies, Hummingbird koek, piesangbrood, doughnuts, roomys, karamel sous, wortelkoek, spesery koffie koek, muffins, man dit kan net lekkerder word!

RESEP
⅓ k Kaneel - fyn
1 e Gemmer
1e Neut muskaat
1½ t Naeltjies - fyn
1½ t All spice

METODE
1. Ek sif die speserye so twee keer saam met my fyn tee siffie om seker te maak al die bestanddele versprei eweredig.

2. Plaas in lugdigte houertjie, gebruik soos nodig.

BRON: Hettie Botha 2015. www.bosenbergguestfarm.co.za

Dinsdag, 20 Oktober 2015

GEROOKTE SNOEK QUICHE MET AARTAPPEL KORS

Die tert is ryk en romerig met ‘n pikante nasmaak van gerookte vis. Gebruik die les oor beroking op die stoof om jou vissie te rook. Anders as jy dit gerook in ‘n blik kan kry, des te meer tyd om ander dinge te doen. Jy kan ook bietjie anders wees en die vis met gerookte hoender borsies vervang!

Die kors is uniek omdat dit met kapokaartappels gemaak word, dit is bros en heerlik.


RESEP
KORS
120 g kapokaartappels - heeltemal koud
230 g koekmeel - gesif
120 g botter in blokkies gesny en effens verkoel - nie pap nie
½ eier - geklits
1 ml neut muskaat
sout en peper na smaak
10 ml ys water

METODE
1. Plaas die koekmeel en botter in ‘n voedsel verwerker en meng dit totdat dit soos broodkrummels lyk.
Meng dan die aartappels en geurmiddels by en laaste die eier.

2. Gooi die mengsel oor in ‘n mengbak en voeg die water by om die deeg aan mekaar te kan druk.

3. Rol die deeg op ‘n meel bestrooide oppervlakte uit en voer ‘n 23 cm flan pan of enige ander bak uit met die deeg.
Bedek die deeg en verkoel vir 30 - 60 minute in die yskas.
As jy nie goed is met uitrol nie, druk met die hand in die pannetjie in.

VULSEL
300 g Gerookte vis (enige soort sal werk - op die foto het ek salm gebruik
1 Prei stingel - opsioneel
¼ Rooi ui - grof gesny - opsioneel
6 Eiers - geklits
150 ml Melk
150 ml Vars room
150 ml Suur room (soms maak ek my eie ricotta en vervang met dit)
15 ml Dill - gedroog
5 ml Kappertjie saad
1 Knoffel toontjie
Sout en peper na smaak

METODE
1. Voorverhit oond na 200 ˚ C en plaas ‘n bakplaat vir die bakkery in die oond.

2. Braai preie en rooi ui tot net sag. Vlok die gaar vis en hou eenkant en pak dit in die tert kors.

3. Meng die res van die bestanddele saam.

4. Gooi die melk en eier mengsel oor die vis en preie mengsel en bak vir 35 - 45 minute totdat die middelste gedeelte droog en geset is. Dit moenie drillerig wees soos jellie nie.

BRON: Annelien Pienaar.  2015, www.bosenbergguestfarm.co.za




Maandag, 19 Oktober 2015

ENGELSE "HIGH TEA" SOET EN SOUT IDEES

Gebruik die soutskonsie resep en vul net 'n kwart van die muffin pan met beslag.
Sprinkel met parmasaan kaas of klapper en plaas moerbeie en bessies in die middel. 
Bak soos op resep aangedui. 
Tyd is net met die helfte minder.
 Hierdie is die meringue resep wat net in vele kleure gekleur is. Geur elke kleur met 'n geur bv: pienk met aarbei, geel met piesang.
Lekker speel.
 Gebruik enige van die sout tert resepte se vulsels en bak dit in filo pakkies.
 Maak 'n tuna mousse as vulsel met fyn blaarslaai lae.
 Ouma se dood gewone koekie drukker koekies word in gekleurde wit sjokolade gedoop en dan met sprinkels versier.
 Outydse soet koekie met 'n glans versiersel laag en dan word vars versuikerde blomme, bessies en blare as garnering gebruik.
 Aarbei konfyt broodjies wat met bruinpapier en mooi scrapboek papier versier is.
Gee die gevoel van landelike kuiertyd.
Heerlik, maklik en vinnig.
Knopie sampioene wat afgevee is, gesout en peper.
Draai toe met spek en bak soos gewoon in oond.
Bedien met ouma Hantie se knoffel sous.
 Ham en Murgpampoen wiele.
Ek maak 'n baie fyn mengelslaai wat effens gemarineer word in asyn, suiker en sout oplossing.
Dreineer voor gebruik.

Jy kan ook hier in plaas van murgpampoen gewone komkommer of wortel vir die buitenste wiele gebruik.

Maak die stroke 15 cm lank om die oprol te vergemaklik.

Eerste laag op toonbank - murgpampoen skyf, dan ham, dan vulsels, rol op en steek vas.
Gebruik kleinerige beet vir die happie.
Kook die beet tot sag en marineer oornag in balsamiese asyn, olyfolie, suiker, sout en peper en kruie.

Dreineer baie goed die volgende dag.

Jy kan 'n variasie van kaas tussen die lagies gebruik - paneer, ricotta, buffel mozzarella, gewone mozzarella, gebraaide haloumi.

Pak die lae met vars kruie op mekaar.








BRON: Annelien Pienaar. 2015, www.bosenbergguestfarm.co.za

Sondag, 18 Oktober 2015

ENGELE OM ONS!

Onlangs beseer een van my seuns hul been so erg dat ons moet hospitaal toe vir ekstrale en dinge. 
My man is op reis vir werk en ek moet inderhaas reëlings tref vir alternatiewe, om my te help met my ander twee filistyne wat moet agter bly. 

So sit ek in die ongevalle van ‘n groot hospitaal gewapen met my laptop en selfoon. 

Ek het klasse en besprekings vir die gastehuis aan oor twee dae en ek moet reëlings tref om die kliente te sorteer met die minste skommeling as moontlik. 

As ek nie op die laptop besig is nie, dan is dit die selfoon om my gastehuis bestuurder te order wie en wat kom die naweek in. 
Aflewerings wat ontvang word en ek moet ook die klas van die naweek skuif want dit lyk soos operasie sake. 
Ek reël akkommodasie so oor die foon vir myself en ek sit agtertoe en sluit my oë vir ‘n minuut en haal diep asem met die hoop dat die knop wat op my maag is, sal verdwyn. 

Ek is so vas in my eie gedagte gang, dat ek nie die klein vroutjie oorkant my raak sien nie. 

Ek dink ek het ook nie so sag gesels nie dus seker hoekom sy my hele petalje kon gadeslaan. 
Sy kyk my in die oë en vra:”’n Slegte dag?”. 
Ek rol die oë as bevestiging omdat my mond droog is en ek te moeg is vir praat. 
Die dame is baie spraaksaam en gaan my nie uitlos nie.
”Jy weet wat kort jy?”
Ek vra ‘n woordelose vraag met die optrek van die skouers.
Sy antwoord:”Non-chalante-fok-jou-tisme pille”
Ek dog ek stik my dood van die lag.

Die trane loop oor my wange van die lag, maskara strepe sit soos ‘n teken van ‘n somer stortbui op ‘n Westransvaalse vlakte. 

Die lag gaan oor in huil, die hele dag se stres loop oor my wange. 
Die vroutjie kom sit langs my en hou my hand vas. 
“Mevrou, ek wou jou net op cheer!” 
Ek gee haar hand ook ‘n drukkie terug. 
Haal weer diep asem en vra haar verskoning vir my ongeskiktheid om nie te wil praat nie. 

Ek nooi haar om saam met my gou koffie en ‘n broodjie te kry. 

Ek het die vorige aand laas geëet en nie besef ek is vodde moeg en erg honger nie. 
Ons gaan terug wagkamer toe en ons gesêls toe een stryk deur om die wag toe sommer vinnig oor te kry.

Ek vra haar toe uit oor haar rede vir die besoek by ongevalle, toe is dit haar beurt om stil te raak. 

Sy wys met haar hande na haar plat bors en vertel die steke van die mastektomie het los getrek en sy moet nou wag vir iemand om die wond skoon te maak. 
Sy het geen hulp tuis nie en die wonde is 2 weke oud. 
Ek sien die kussingkie onder die arm en die geswelde hand. 
Ek vra haar uit oor die versorging van die wond en hoekom die hand so geswel is. 
Sy doen al haar werk self vir haar en haar man. 
Tyd vir siek wees is daar nie.
 In my hart krimp alles in een, sy het reeds skade aan die limf met die gewoel en wikkel. 
Besef sy nie die waarde van die nasorg nie? 
Dan besef ek, tyd vir jouself is 'n luukse, in haar geval spandeer sy dit aan haar huishouding en haar mense se versorging. 
Ek wens ek het 'n tower staffie gehad om haar omstandighede te kon verbeter.
Ek vertel haar toe my storie van kanker en ons ruil nommers uit! 
Ek het die flikkering in haar oog gesien toe ons gesels en sy my weer uitvra oor my pad, sy kan sien ons is beide pakkies wat langs mekaar sit, die inhoud van ons verhaal verskil net maar pakkies dra ons saam! 

Sien, mense kom met 'n rede oor jou pad! 

Moenie blind wees vir jou eie moleste nie maar kyk met 'n ander bril na situasies.

Engele is oral om ons gesaai!


BRON: Annelien Pienaar. 2015, www.bosenbergguestfarm.co.za


NUWE RESEPTE BOEK - LE STOOF KOOK GROOT IN 'N KLEIN KOMBUIS!



Ek het Freddie baie vlugtig ontmoet toe ek by die jaarlikse Kaas en Wyn fees in Sundringham, Stellenbosch gaan werk het.
Ek het een middag laat, die man sien aanstap met sy netjies gesnyde hare en spierwit sjefsbaadjie. Onder die een arm was ‘n lang Franse brood en onder die ander ‘n bottel met wyn.
Hy het vriendelik gesels en daar was net iets anders omtrent hom wat my fassineer het.
Hy het elke middag kom inloer en ek het glad nie eens sy naam onthou nie.
Toe eendag sien ek hom op FB en befriend hom, ek was nog nie ‘n dag spyt nie, baie lesse al by hom geleer!
Hy het iets baie spesiaal en ek dink na ‘n paar maande wat ek hom op FB leer ken het, besef hy is regtig ‘n mense mens.
Hy is iemand wat die mensdom dien met sy hande werk.
Daar is niks waarvoor hy nie kans sien nie.
Tans het Freddie se grootste droom waar geword.
Hy het sy eerste kookboek die lig laat sien.
Wat dit vir my so uniek maak is die feit dat dit so prakties uit een gesit is vir mense wat in klein spasies woon met die minimum toerusting tot hul beskikking.

HIER IS 'N KORT CV VAN FREDDIE 
Gebore in George – die hart van die Tuinroete, geseend met n familie wat hou van kos en lekker eet, het Freddie geleer om van elke maaltyd n geleentheid te maak.
Na die voltooing van sy studies in die skoonheids industrie het Freddie homself bevind aanboord die luukse skip – Disney Cruise Line in die Vista Spa.
Sy London opleiding maak hom gesog in die spa industrie.
Hoe groot die voorreg ook al was om vir een van Britanje se vooraanstaande spamhuise te werk, het Freddie se hart nog al die tyd in lugvaart.
Vlieg en onthaal was nog altyd sy passie.
Terug in Suid Afrika besluit Freddie om Kaapstad sy permanente woning te maak en begin studeer as professionele vlug en kajuit bemanning lid.
‘n Tuin woonstel, niks groter as 'n kamertjie met‘n oop plan kombuisie met geen spasie vir ‘n oond of ‘n stoof nie moes deug vir slaap, kook en onthaal plek.
Sy beste belegging vir hierdie klein woonspasie was ‘n “Salton Mini Kitchen” wat bestaan uit ‘n klein oondjie met twee stoofplate op, niks grooter as ‘n mikrogolf oond nie.
Tagtig resepte in hierdie boek het die lig gesien vanuit hierdie oondjie wat gesorg het vir menigde groot ete partydjies in n baie klein spasie.
Met ekstra tyd op hande skryf Freddie in vir‘n kursus in “gourmet cooking and professional catering” waar hy homself bekwaam as kok in eie reg.
Ophou studeer was nie vir hom nie en het hy kwalifikasies bekom as Barbier, Internationale man versorgings spesialis, London opgeleide spa en masseur terapeut, Kok, Spysenier, Vlugkelner, Mode stilis, persoonlike stilis, mans mode stilis en “Pop-up” restaurant eienaar.
Wanneer Freddie nie vlieg nie bied hy al die bogenoemde dienste aan vanuit sy studio “Living Life Large”.
Hier word kliente later vriende.
Gebaseer in die Noordelike voorstede van Kaapstad word mense regoor die Kaap getrakteer met lekker kos, persoonlike versogins behandellings en mode konsultasies, reg om die lewe aan te pak soos nog nooit van tevore nie.

KOMPETISIE
Een gelukkige wenner ontvang ‘n getekende kopie van Freddie se nuwe boek.
Hoe om deel te neem?
Stuur jou antwoord na freddie.grooming@gmail.com

VRAAG
Hoeveel resepte is in die boek?
Stuur jou antwoord voor of op 30 Oktober na bg adres.
Boerekos met ‘n Twist sal die gelukkige wenner dan aankondig.

Waar kry jy die boek te koop?
Boek is beskikbaar in Engels en Afrikaans.
Teen R199
Bestel direk by Freddie: 0713540030
freddie.grooming@gmail.com
www.livinglifelarge.co.za

BRON: Annelien Pienaar. www.bosenbergguestfarm.co.za

Woensdag, 14 Oktober 2015

'N MOELIKE BRAHMAAN EN 'N BESEERDE MALTEES!

Nou goed, soms dink jy-jy het alles gesien en dan kry jy dae soos vandag!

Ek is gevra om ‘n pakkie by mense te gaan aflaai as daar dalk ‘n geleentheid verby kom. 

Soos dit my aard is sal ek die ekstra myl gaan, veral as dit bejaarde mense is. 
Ek kom by die plaas hek aan en moet self die draad hek wat so tjirr en kierrr oop swaai. 
Dit is so ‘n lang ene en die verdomde ding is so lank en maak na die verkeerde kant oop. 
Klim terug in die kar en sit die kar in tru-rat, stoot ver terug om plek te maak vir die lang hek sodat dit kan oop maak. 
So ry ek sukkel-sukkel deur die hek, maak toe, want ek weet ‘n hek is daar vir ‘n doel. 
Iets is veronderstel om nie uit te kom nie. 
Net toe ek om die draai gaan, storm ‘n bedonderde Brahman bul die kar en stamp teen die wiel. 
Ek kyk die witte bul aan en skree vir hom: “Voetsek, ek maak biltong van jou!”, gooi hom met my groot sonbril en jy sien net ore spat en toe volg my pienk waterbottel! 
Ek weet nie wat hom van plan laat verander het nie maar hy kies koers veld in. 
Mmmmh dink ek jou blikskottel, geen  wonder daar is ‘n moewiese hek om jou in te hou nie! 
My moer-meter is nou teen die dak vas.

Ek ry maar versigtig die lang paadjie af na die huis, ek sien die mooiste windpomp wat draai in die wind wat besig is om ‘n dam vol te maak.

Dit is warm en ek is dors en kyk verlangend na die straal water wat inloop, sussie tyd vir stop is daar nie!  
Gelukkig sien ek gou die huis en stop. 
Die tannie kom uit en ek kan nie help nie, maar vra dadelik vir yskoue water. 
My Ma het my geleer dit is erg ongeskik om te vra voordat jy nie gevra word nie. 
Ek gaan sit op die brëe rooi stoep en die koel wind kom om die hoek. 
Skielik spring daar ‘n maltesie op my skoot en die arme dingetjie se agterlyfie is erg met verbande verbind. 
Selfs die lang stertjie het iewers heen verdwyn. 
Hopelik was dit nie die bul wat haar beseer het nie, hy is kapabel en trap haar plat! 
So sit ek met die beseerde woefter op my skoot. 
Die tannie kom by die huis uit en bring die heerlikste koue Rooibos ystee en ‘n glas water. 
Ek sluk eers die water weg en toe volg die tee. 

Ek vra bietjie uit oor die plaas en soos ouder gewoonte skiet ek wortel en vra vreeslik uit. 

Op ‘n stadium spring die beseerde hondjie van my skoot af en ek probeer keer. 
“Nee”, sê die tannie droog, “die hondjie is nie siek nie”. 
Sy sien die hengse vraagteken op my gesig, ek ek vat ‘n groot sluk tee. 
So tussen die sluk deur antwoord die tannie my: “Die hondjie is op hitte!” 
Die tee het oral uit gespuit, deur my neus, mond en ek dink my oë se trane ook. 
Ek kon nie help nie, maar ek het so gelag dat die nat plek wat op die stoel was dalk nie ystee was nie! Hierdie boervrou  maak ‘n plan en die tannie het 10!

Oppad terug het ek nie weer die beduiwelde bul gesien nie, my bottel opgetel en my bril aanmekaar probeer sit. 

My dag het goed ge-end!

Groete Annelien Pienaar.

www.bosenbergguesfarm.co.za
2015


OUMA HANTIE SE SOUTSKONSIES

My Ma het male sonder tal, hierdie wonderlike sout skonsies vir ons kosblikke gemaak. Dan het sy ook vir die kerk se tee na nagmaal, gou-gou vroeg oggend hierdie skonsies gebak. Jy kan enige soutvulsel binne in sit. 

Oorskiet bobotie, pasta vleis, bullybief, gekookte eier, smoor snoek tert wat oorgebly het, mozzarella, ricotta, bloukaas, gerookte worsies, tuna mayo of selfs hoender mayo. Die vulsels wat jy gebruik moenie loperig in dikte wees nie, dit moet sy vorm redelik behou anders gaan die skonsie nie mooi rys nie.

RESEP VIR DIE GEWONE SKON
250 g Gaar maalvleis
140 g Koekmeel (1 kop)
15 ml Bakpoeier (1 el hoog)
1 t Sout - gegeurde soute werk ook lekker hier
250 ml Melk (1 k)
125 ml Olie (½ k)
2 Eiers - geklits

VARIASIE WAT BY BESLAG GEVOEG WORD
¼ k Spriet uie
1 e Pietersielie of ander groen kruie
½ k Spekvleis - uitgebraai en opgekap

METODE
1. Voorverhit oond na 200 ˚ C en spuit kolwyntjie pannetjies. Jy kan die mini pannetjies ook gebruik, die degie bak pragtig.

2. Hou die maalvleis of vulsel eenkant.

3. Sif al die droë bestanddele saam behalwe die bakpoeier.

4. Meng al die vloeistowwe saam en die eier. Meng dan met draadklitser by die meel en klits goed deur sodat daar geen klonte kan wees nie. Die beslag se konsistensie moet die van plaatkoekie deeg wees, effens dunner. Laat die beslag vir 20 minute staan om verder te verdik. 

5. Voeg die bakpoeier en variasie bestanddele by die beslag en klits goed deur. Skep die beslag in die pannetjies tot so ¼ vol en skep dan ‘n bietjie maalvleis in die beslag. Vul dan die gaatjie op met nog beslag tot op ¾ vol. Moenie die pannetjies te vol maak nie, dit gaan oor die kante rys en dan is die kolwyntjies nie netjies nie.

6. Die beslag kan ook in ‘n groot broodpan vir een groot vleisbroodjie gebak word, volg net stap 5 se vul metode.

7. Bak vir klein kolwyntjies 8 - 10 minute by 200 ˚ C, vir gewone grootte muffins 15 - 20minute en vir broodjie 45 minute by 180 ˚ C.

BRON: Hantie Bezuidenhout.  www.bosenbergguestfarm.co.za

Dinsdag, 13 Oktober 2015

WAAR KOM MEEL VIR GEBAK VANDAAN?



Kom ons kyk eers na waaruit die koringkorrel bestaan sodat dit vir julle die skakels in plek sal laat val.
Die koring korrel bestaan basies uit drie hoofdele naamlik: Semel (bran), endosperm en kiem (germ).

SEMEL(LIG BRUIN VAN KLEUR EN VEERLIG)
Semels is belangrik in ons verteringstelsel want dit word die besem van die kolon genoem.
Dit absorbeer alle onnodige goed soos suiker, cholesterol en toksienes uit die sisteem en vee dus die dermkanaal skoon.
Wanneer jy ‘n vesel arm dieët volg sal jy baie komplikasies soos hoofpyn, verhoogde cholesterol en vele meer probleme ervaar.
Dus het ons dit in ‘n daaglikse dosisse nodig.
Verder bevat die semel ook minerale en B-groep vitaminies wat die senuwee stelsel voed, die brein en alles wat met senuwee gepaard gaan.

ENDOSPERM (WIT GEDEELTE "KOEKMEEL")
Hierdie is die gedeelte waarvan witmeel vervaardig word soos koekmeel en broodmeel.
Koekmeel se protein inhoud is baie laer as broodmeel.
Wat bedoel ek as ek van protein praat?
Daar is twee elemente in meel naamlik glutenien en gliadien wat deel vorm van die protein gluten. As hulle vog kry bind dit saam en vorm gluten.
Gluten is dus vir gebak soos ‘n tent se raamwerk en hou alle gebak se struktuur in plek.
Sonder gluten sal die gebak ‘n lae volume hê.
Die gluten / protein stol tydens bak wanneer dit maksimaal gerek het by die regte tyd en temperatuur.

Hier is ook waar die moeilikheid in kom.
Sodra net hierdie gedeelte van die koring korrel verwerk word noem ons dit ‘n verfynde (refined) meel.
Wat is nou die probleem?
Wel, om die meel so gou as moontlik in die mark gedruk te kry moet dit op ‘n chemiese manier witter gekleur word asook gedroog word.
Die produkte wat gebruik word word aan die publiek as voedsel veilig voorgehou maar ek sit maar so met die tong in die kies die storie en bekyk.
Hoekom is soveel kinders wat ADHD is dadelik in onbeheerbare buie nadat hulle verfynde grane eet? Preserveermiddels en additiewe se skuld, hoekom is mense allergies vir gluten?
Is die proses nie so erg verfyn dat die liggaam se anti-liggame in oorlog “mode” moet gaan om die vreemde dinge wat inkom aan te val nie?
Die produsente neem van die chemiese prosesse wat in die liggaam op ‘n natuurlike wyse moet plaasvind weg en dan gaan die liggaam in “defense” in.

VERONDERSTEL JOU KOEKMEEL IS KLAAR EN JY HET NET BROODMEEL IN DIE KAS, KAN JY DIT GEBRUIK VIR KOEKBAK?
Ja, jy kan maar dan moet jy eers net die protein inhoud van die broodmeel verlaag deur mielieblom by te voeg.
Jy doen dit in die volgende verhouding, jy moet uit elke koppie meel twee eetlepels koekmeel haal en dit met twee eetlepels mielieblom en ‘n kwart teelepel sout vervang.
Self raising flour is meel wat 'n chemiese rysmiddel bevat soos koeksoda en kremetart.
Die endosperm bevat hoofsaaklik koolhidrate en dan protein (gluten) en sommige B-vitamienes.

KIEM (GERM)
Hierdie gedeelte is die olierige gedeelte van die korrel.
Dit word verwyder uit meel omdat dit galsterigheid tot gevolg het.
Maar in volkoring meel word dit nie verwyder.
Dit bevat B-Vitamines, minerale, Vit E en olies.

Dit is meer voordelig om die volledige koringkorrel te gebruik veral in jou brood produksie vir tuis gebruik.
Dit is goed vir ons kinders se brein aktiwiteite, gehue en konsentrasie.
Fokus daarop om meer van dit in hul dieet in te sluit asook jou eie om gifstowwe uit die liggaam te neem.

BRON: Annelien Pienaar, 2015. www.bosenbergguestfarm.co.za